Oud-leerder van Langenhoven Gimnasium en bobaas perde-uithouritruiter, Lara le Roux, het verlede week vanaf 25-27 Junie tydens die jaarlikse Fauresmith-uithourit, in die Vrystaat gery dat die stof staan.
Le Roux (24) was die 2de algehele ruiter om die 206 km oor drie dae te voltooi in ’n tyd van 08:09:43 met ’n gemiddelde spoed van 23 km/h.
Sy was slegs 2 minute agter vanjaar se wenner.
Haar perd Koringkloof Enzani het die finale veearts-ondersoek met vlieënde vaandels geslaag.
Hierdie is Le Roux se 9de Fauresmith. Die rit is bekend vir onder andere die uitdagende baan en bibberkoue van die Vrystaat, en dit is ’n groot prestasie vir enige ruiter om dit suksesvol te voltooi.
Vanjaar het 252 perde op dag een vertrek, en 133 het die rit suksesvol voltooi. Vanjaar het ruiters die opsie gehad om hul perde deur die loop van die rit te onttrek sou dit nodig wees. Die slaagpersentasie vanjaar was 52%, meer as vorige jare. Lara is deel van die Outeniqua Uithouritklub. (Deur Angelique Erasmus)