Eerste toernooi vir Oudtshoorn Jukskei-klub

Bo: Echbert le Roux, ’n lid van die Oudtshoorn Jukskeiklub wys sy vernuf met die skei by hul oefening verlede week by die De Jager Sportkompleks. Foto: Lindi Brill Onder: Die sandput met die skeie, wat dui op ’n paar akurate pogings. Foto: Lindi Brill

Die nuwe jukskei-klub van Oudtshoorn gaan hul heel eerste toernooi op Saterdag, 6 Julie by die De Jager Sportkompleks in Oudtshoorn aanbied.

Nadat Die Hoorn vroeër vanjaar berig gelewer het van Pieter Heydenrych en sy vrou, San, wat vanaf Naboomspruit na Oudtshoorn verhuis het en hul passie vir Jukskei in Oudtshoorn wou kom vestig, is die Jukskeiklub al ’n goeie aantal lede sterk.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het hulle gehelp en die ou sandputte wat agter die De Jager Sportkompleks is, weer mooi oopgegrawe en met nuwe sand gevul.

“Hierdie naweek se toernooi gaan hopelik baie meer mense lok om by die klub aan te sluit, almal is welkom om te kom deelneem. Oud en jonk”, het Lulu Zeeman, ’n lid van die klub, aan Die Hoorn gesê tydens hul oefening verlede week.

Volgens Zeeman is daar 10 spanne ingeskryf. Drie spanne van Hartenbos, twee van Albertinia en vyf spanne van Oudtshoorn.

Registrasie sal om 07:30 open en die wedstryde skop om 08:30 af. Vir enige inligting kan Zeeman gekontak word by 071 193 1332. (Deur Lindi Brill)