Kangovalleie Landbouvereniging het op 9 September hul derde suksesvolle gholfdag by die Oudts-hoorn Gholfklub aangebied.
Hierdie dinamiese groep boere is reeds twee jaar lank besig met gefokusde fondsinsamelings om kameras te kan aankoop vir plaas- beveiliging.
“Vorige jare se insamelings kon reeds 6 kameras aankoop, waarvan almal operasioneel is. Met die in-komste uit die gholfdag kan ’n verdere 2 aangekoop word”, het Hennie-Edna Janse van Rensburg (voorsitter) aan Die Hoorn gesê.
Vennootskappe is vir hierdie vereniging baie belangrik. Danksy jarelange ondersteuning, het 74 individue en besighede pryse geskenk. Daarbenewens was daar 40 borge vir die bowwe en setperke.
Die dag is in twee verdeel – die oggend was pretspel (82 nie-gholfspelers het hulle gate uit geniet!) terwyl die meer ernstige 72 spelers die middag die baan vir hulself gehad het. Die pretspelers het met 56 geskenke (gelukkige trekkings en pryse) huis toe gaan. Hardy Wessels en sy spanmaat het met die louere weggestap deur die beste telling van die dag aan te teken.
Die “regte” gholfspelers kon 57 geskenke huis toe neem: Ronelle Huysamen en Ronelle Esterhuizen het die damesspel gewen, en Ian Laubscher en sy spanmaat die mansspel.
’n Interessante veiling – 17 pryse – het bygedra tot die algemene feestelike atmosfeer.
Die landbouvereniging wil graag hul dank oordra aan al die deelnemers en borge – die 2 nuwe veiligheidskameras sal binnekort geïnstalleer word.
Landbouvereniging Gholfdag groot sukses
Die Barbie Girl Pretspan was een van die spanne wat die oggend kom geniet het alhoewel hulle geen gholfvaardighede het nie. Foto: Verskaf