Klein Karoo Sakeaflos bring groot sports

Hierdie oomblik is tydens 'n vorige Timbercity Klein Karoo Sake-aflos vasgegryp. Organiseerders sê dat daar vanjaar groot pret op die kaarte is vir deelnemers. Foto: Hoorn argief

DIE Timbercity Klein Karoo Sakeaflos wat op Maandag, 28 Februarie, plaasvind gaan vanjaar weer op die Rec (Oudtshoorn Sportgronde) in Voortrekkerweg plaasvind. En inskrywings is oop vir almal!

Die sakeaflos, wat deur die Klein Karoo Atletiekfonds in samewerking met ‘n handvol borge aangebied word, is ’n vrolike geleentheid waar almal van Oudtshoorn mekaar beter kan leer ken terwyl almal oefening kry.

Spanne bestaande uit onder meer besighede se personeel, leerders, die SAPD, die SANW en ander openbare instellings, asook professionele beroepe kan inskryf. “Almal wat wil kom deelneem, is welkom,” sê Dave van der Walt van die KKAF.

Elke deelnemer wat klaarmaak kry ’n medalje terwyl die wenspanne in elke kategorie goue medaljes ontvang. Daar is vanjaar, soos oudergewoonte, ‘n hardloop- en stap-afdeling. Spanne wat hardloop moet uit ses lede bestaan en kan inskryf teen R150 per span, terwyl spanne wat wil loop uit vier lede moet bestaan, en kan inskryf teen R100 per span.

Daar is ook ‘n kategorie vir “Fancy Dress”. Daar sal pryse uitgedeel word vir die mees oorspronklike kostuums.

Elke been van die aflos verg dat ‘n spanlid 2 km moet aflê, met spanlede wat nie jonger as nege jaar oud mag wees nie. Elke spanlid mag ook net een been van die aflos voltooi.

Mansspanne, vrouespanne en gemengde spanne (drie mans en drie vroue) asook hoërskole-, laerskole en gestremdespanne kan inskryf.

Inskrywingsvorms kan per e-pos na davesusvdw@gmail.com gestuur word, of skakel Van der Walt by 082 773 4901. Vorms kan ook by Van der Walt aangevra word.