Groot toutrek by Vaardigheidskool

Dit is die Oudtshoorn Vaardigheidskool se tiende verjaarsdag, en eerste op die lys van ’n reeks feesvieringe is die jaarlikse Timbercity SWD Toutrekbyeenkoms. Die byeenkoms sal Saterdag, 26 Februarie vanaf 7:00 tot 16:00 op die skool se sportterrein plaasvind. Die geleentheid - wat elke jaar vir groot opwinding sorg - sal meer as 500 toutrekkers van die Overberg- en Eden-streek saambring om sake uit te spook. Die grootste opwinding sal egter heers wanneer spanne soos Swellendam Hoërskool, Oakdale Landbouskool, Van Kervel Skool en die tuisdorp se Vaardigheidskool (Valkies) teen mekaar te staan kom. Die dag bied sport en vermaak vir die hele gesin, met die kompetisie tussen die verskeie jonger, “kaalvoetspanne” wat beloof om ook groot vermaak te verskaf. Foto: Die Hoorn