Die Oudtshoorn Polisie het die naweek op meer as 142 liter drank beslag gelê in ’n huis in Bridgton, Oudtshoorn waar drank glo onwettig verkoop word.
Volgens kapt Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, het die misdaadvoorkomingseenheid met ’n deursoekingslasbrief op die huis toegeslaan. Hulle het die verdagte, ’n middeljarige man, op heterdaad betrap en in hegtenis geneem vir die onwettige handel in drank. Die meer as 142 liter drank is op die perseel gevind.
Die verdagte is later vrygelaat op ’n waarskuwing om binnekort in die Oudtshoorn Landdroshof te verskyn.