Kango Marathon Saterdag in Oudtshoorn

Brandon Hulley by ’n vorige wedloop. Foto verskaf

DIE gewilde Kango Marathon vind Saterdag 25 Februarie plaas.

1 800 Atlete van regoor Suid-Afrika het ingeskryf. Daar word sowat 6 000 besoekers aan Oudtshoorn verwag wat tussen 6 en 8 miljoen se finansiële inspuiting vir die dorp se ekonomie bring.

Die 42 km atlete spring vroegoggend by die Kango Grotte weg, en die 21 km atlete by Ou Tol en eindig by Langenhoven Gimnasium. Vanjaar is word die waterpunte deur plaaslike besighede beman om inwoners by die marathon te betrek.

“Ons gee plaaslike besighede die kans om hulself te bemark en so die gemeenskap betrokke te kry en te verseker dat hierdie wonderlike byeenkoms ’n groot sukses sal wees,” het Ernst Viviers van Iron Jawed Multisport klub aan Die Hoorn gesê.

Die wedloop word vanjaar deur hierdie klub gereël.

Baie atlete gebruik hierdie wedloop om as voorbereiding vir die bekende Comrades
Marathon wat op 11 Junie vanjaar in KwaZulu Natal plaasvind.

Daar het ook vanjaar baie bekende atlete ingeskryf soos Carla Molinaro. Molinaro wat oorspronklik van Engeland kom, bly deesdae in Kaapstad en gaan aan die halfmarathon (21 km) deelneem. Sy het in 2016 onder die top 10 by die Comrades geëindig.

Nog ’n bekende is Brandon Hulley, wat aan Iron Jawed Multisport klub behoort. Hy het in 2022 onder die top 250 Comrades atlete geëindig met ’n tyd van 4 ure en 11 minute. Hy was die SWD atleet met die beste prestasie.

Die organiseerders nooi alle Oudtshoorniete uit om die dag saam met die atlete en plaaslike besighede te kom geniet en die atlete aan te moedig en ondersteun op die roete. Die eindpunt vanjaar is by Langenhoven Gimnasium, waar daar ’n heerlike feestelike atmosfeer sal wees, met kos stalletjies en nog vele meer. (Deur Angelique Erasmus)