Die span van Grebe’s Kickboxing Club van Oudtshoorn wat uitgeblink het by die afgelope naweek se nasionale kampioenskap op Oudtshoorn is voor van links Andrea Poyana o/55 kg), Maarten Krüger (o/47 kg) en Simon Greeff (u/47 kg). Middel van links is Ranger Grebe (1x goud o/74 kg) , Wian Grebe (brons o/47 kg), Megan Grebe (2 x goud o/55 kg), Audan Olivier (silwer o/74 kg), Ben Greeff (brons o/52 kg), Divan Rademeyer (silwer u/47 kg), Ali Nait-Saidi (3 x silwer o/94 kg). Agter van links is Mario Cassara (silwer en brons u/94 kg), Jacquine Strydom (silwer en brons o/60 kg), Louis Luyt (1x silver o/84 kg, en brons), Jenovin Fortuin (2 x goud Dubble o/57 kg), Righardt van den Berg (brons o/64 kg) en Audan Olivier (brons 0/32 kg). Foto verskaf

Shihan Josh Cloete (links), Wes-Kaapse president van die Suid-Afrikaanse Skopboksvereniging, ontvang ’n tjek van R40 000 van burgemeester Colan Sylvester as die munisipaliteit se bydrae tot dié groot nasionale sportkampioenskap wat op Oudtshoorn gehou is. Foto: Christine Schoeman
DIT was waarlik ’n nasionale skopbokskampioenskap sonder gelyke, sê Ranger Grebe van Oudtshoorn oor die SAKA nasionale skopboks-kampioenskap wat van 26 tot 28 April op Oudtshoorn gehou is.
Behalwe dat Grebe, sy dogter Megan, en Jenovin Fortuin al drie tot nasionale kampioene gekroon is, het Meghan en Jenovin boonop elkeen in twee items goue medaljes verwerf.
Grebe, die eienaar van Grebe’s Kickboxing Club op Oudtshoorn, sê besoekers kon nie uitgepraat raak oor die inwoners van Oudtshoorn se gasvryheid nie. “Dié toernooi gaan die kickboxers nog lank onthou! Dankie Oudtshoorn!”
Die topatlete van 13 distrikte wat vir die nege provinsiale spanne gekies is, het hier deelgeneem – ’n totaal van 388 deelnemers.
Grebe sê die toernooi dien as die jaarlikse Suid Afrikaanse kampioenskap om die beste atlete in die land te bepaal waaruit ’n Protea- en Presidentspan gekies word vir deelname aan die WAKO Wêreldskopbokskampioenskap later vanjaar.
Die naweek is Vrydagaand afgeskop met ’n burgemeestersonthaal vir belanghebbendes.
• 16 lede van Grebe’s Kickboxing klub het deelgeneem met 13 wat onder die top-drie geïindig het .
Grebe het die munisipaliteit, die departement van kultuur en sport, Oudtshoorn Toerisme, en die dorp se restaurante en toerisme-aantreklikhede bedank vir hul bydrae om die toernooi ’n reuse-sukses te maak.