Jhedli van Briesies van Langenhoven Gimnasium ontvang sy trofee as beste kolwer in sowel die T20-reeks as die superliga van Jonathan Carelse, voorsitter van Eden Skolekrieket. Foto: verskaf
Deur Higgo Jacobs
JHEDLI VAN BRIESIES is as die SWD se skolekrieketspeler van die seisoen aangewys tydens SWD Krieket se jaarlikse prystoekenningseremonie Vrydagaand, 26 April, by De Opstal Country Lodge buite Oudtshoorn.
Van Briesies, ster-kolwer van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, het ’n totaal van 276 lopies in die T20-reeks van SWD se skolekrieket aangeteken met die hoogste telling van 78 nie uit nie.
In die o.19-superliga was Van Briesies ook die beste kolwer met ’n totale telling van 323 in die reeks. Sy hoogste telling was 143.
Sy Gimmie-spanmaat, Eaj Carew, is aangewys as die beste bouler van die seisoen. Hy het altesaam 21 paaltjies laat kantel met sy beste ontleding van 5/9.