Die nie-regeringsorganisasie, Impact Sport Events, het oor die Paasnaweek ʼn suksesvolle rugbytoernooi op die Bridgton Sportgronde aangebied. Saterdagoggend tydens ʼn spoggeleentheid in die Oudtshoorn-banketsaal is rugby-, netbal- en kriekeklubs, ook van weleer, met spesiale toekennings vereer.
Organisasies en ʼn paar individue, waaronder die Springbokrugbyspeler en Oudtshoorniet, Kabamba Floors, is vereer.
Floors, tans hoofafrigter van die Maties, het die verering as baie spesiaal beskryf omdat dit die eerste keer was dat hy so vereer word. Hy het Impact Sport Events geloof vir wat die organisasie vir sport doen en sy ondersteuning beloof om dit nog groter te maak.
Ronnie Burton, ouddosent van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland, en wyle Michael April, pianis, koorleier en sportadministrateur, sowel as die Choraleers sanggroep is vir hul jarelange kulturele bydraes vereer. Die destydse Onderwyskollege Suid Kaapland (OKSK) en die Oudtshoorn Munisipaliteit is ook vereer.
Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, het Impact Sport Events geloof vir die inisiatief. Hy het ook aan rugbyklubs gesê dat hulle dalk onbewus is van die bydrae wat hulle lewer om sosiale probleme aan te spreek, deur tydens wedstryde honderde jongmense na die rugbyveld te lok. “Dit maak deel uit van die sosiale ontwikkeling van die dorp,” het hy gesê.
Die lys van vereerdes is:
Rugby: All Blacks, Collegians, Oudtshoorn, Spring Roses, Harlequins, Perseverance, Young Pirates en Hampshire van Graaff- Reinet.
Netbal: Happy Hearts en Uni-spurs.
Krieket: Union Stars en Western Hope.
Kultuur: Ronnie Burton, Michael April en die Choraleers sanggroep.
Organisasies: Impact Sport Events, OKSK en Oudtshoorn munisipaliteit. Individuele prestasie: Lukas (Kabamba) Floors. (GARNETT WICOMB)
Kabamba Floors vereer vir sy rugbyprestasies
Kabamba Floors met sy toekenning saam met die speaker, Suzane Jansen, Granwell Strydom van Impact Sport Events en burgemeester Johan Allers. Foto: Garnett Wicomb