KKS-Gimmies Sporttoernooi 2025

Die KKS-Gimmie Sporttoernooi van 18 tot 21 April by Langenhoven Gimnasium was ʼn uitstaande viering van jeugsport, kameraadskap en mededinging.

Dié sporttoernooi, geborg deur Klein Karoo Saad, het 28 spanne van regoor die land bymekaar gebring vir ’n opwindende naweek van rugby, netbal, seuns- en dogtershokkie.

Van die eerste fluitjie tot die eindtellings was die vlak van talent en sportmansgees inspirerend. Spanne het hul alles gegee en het wedstryde met uitstaande individuele vertonings en onvergeetlike spanoomblikke gelewer.

Wat hierdie toernooi egter werklik onderskei het, was die gees van eenheid en respek wat met elke wedstryd deur spelers, afrigters en toeskouers getoon is.

Dit het van die geleentheid soveel meer oor gemeenskap as oor kompetisie gemaak.
Langenhoven Gimnasium bedank Klein Karoo Saad, as hoofborg, sowel as Klein Karoo Saadproduksie en Agrofors vir ’n ruim borgskap wat die droom van die toernooi ’n werklikheid gemaak het.

Groot dank ook aan Karusa, Johnsson Workwear, Karoo Lusern Slaghuis, PNA Oudtshoorn en FP Feathers vir hulle bydrae tot ’n suksesvolle toernooi.

Die afgelope toernooi het bevestig dat die KKS-Gimmie Sport- toernooi beslis ’n hoogtepunt op Oudtshoorn se jaarlikse sportkalender is en deelnemers sien reeds uit na volgende jaar.

Foto’s verskaf

’n Woord van dank

Die pas afgelope KKS-Gimmies sporttoernooi, aangebied deur Langenhoven Gimnasium en geborg deur Klein Karoo Saad, was ’n reusesukses. Namens Klein Karoo Saad, wil ek graag die geleentheid gebruik om Langenhoven Gimnasium se span en reëlingskomitee, geluk te wens met ʼn pragtige sporttoernooi vir rugby, hokkie en netbal.

As hoofborg van die toernooi, kon ons nie vir ʼn beter uitkoms gevra het nie. Ons het deurlopend, positiewe kommetaar ontvang van ouers, afrigters en belangstellendes wat die geleentheid bygewoon het. Ons is baie trots om met die toernooi geassosieer te wees. Dit is ook vir Klein Karoo Saad en sy filiale, Klein Karoo Saadproduksie en AgroFors, ʼn groot voorreg om ook in ons eie dorp betrokke te raak by die ondersteuning en ontwikkeling van skolesport.

KKS is reeds vir baie jare betrokke by verskillende skole in die Wes-Kaap en ook SWD Skolerugby.

Hierdie geleentheid is dus vir ons van groot waarde en ons sien uit daarna om die toernooi, saam met Langenhoven Gimnasium, te laat groei tot een van die prestige-toernooie in die land. Nogmaals Dankie.
David Malan
Besturende direkteur: Klein Karoo Saad