Jong Gino Afrika se sterkste onder 90 kg!

DIE ongewoon baie kalorieë wat hy moes eet en die magdom ure wat hy in die gimnasium deurgebring het, het die naweek van 5 en 6 Desember vrugte afgewerp toe die 18-jarige Gino Nortjé gekroon is as Afrika se sterkste man onder 90 kg.

Uit vyf deelnemers in sy gewigsafdeling het Gino dié naweek op Rustenburg tydens die Africa’s Strongest Man 2020-kompetisie met die louere weggestap deur elke item behalwe een te wen.

Gino het die trok-trek; “max deadlift” teen 240 kg; “load medley”, wat behels dat hy in ’n bepaalde tyd ’n reeks verskillende voorwerpe van verskeie gewigte moes optel en op ’n platform plaas, onder meer ’n 200 kg-bokssak, ’n 100 kg-bier-“keg” en ’n gewig van 85 kg; “frame carry” van 260 kg; en “atlas stones” teen 120 kg gewen, en die titel ingepalm.

Gino sê dat hy aan sy ma Sandra Snyman, familie, vriende en God moet dankie sê, sonder wie se ondersteuning hy nie in die kompetisie sou kon gepresteer het nie.

Hy het sy tannie, Madelein, wat spesiaal van Manchester in Engeland gekom het om hom by te staan, spesiaal bedank.

• Gino het reeds in Oktober vanjaar tydens die Southern Cape Strongman Classic in Mosselbaai vir die Rustenburg-kompetisie gekwalifiseer toe hy homself en ander verras het deur 320 kg in die “silver dollar deadlift” op te tel.

Tydens hierdie kompetisie het Gino 85,7 kg geweeg, en was hy die jongste en ligste atleet by die byeenkoms. (Deur Stefan Skapie Goosen)