‘Pine’ tree af na meer as 38 jaar

Ao Pieter “Pine” Pienaar (middel voor) verlede Woensdag saam met personeellede van die Oudtshoorn Landdroskantoor. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb

EEN van die langsdienende personeellede van die Oudtshoorn Landdroshof, die altyd vriendelike ao Pieter “Pine” Pienaar, tree einde vanjaar na meer as 38 jaar in die polisie en 30 jaar as hofordonnans uit diens.

“Dit voel so onwerklik, maar ek sien uit na die rus,” het Pienaar verlede Woensdag tydens ‘n afskeidsgeselligheid by die landdroskantoor gesê.

Hy het in 1982 by die polisie aangesluit en is vanaf 1990 hofordonnans, die laaste twee jaar as bevelvoerder van die hofordonnanse.

Hy is een van slegs vier personeellede wat in 1991 by die huidige landdroskantore begin werk het.

Hooflanddros Jaco Lambrechts het Pienaar as ’n ware steunpilaar beskryf en iemand wat “altyd daar was” wanneer jy op sy nommer gedruk het. Hy het Pienaar namens die departement van justisie bedank.

Streeklanddros Ntsoki Moni het Pienaar as ‘n toegewyde amptenaar beskryf wat almal met respek behandel het.

Pienaar het in 1982 in die Oos-Kaap by die destydse spoorwegpolisie aangesluit, wat in 1986 by die Suid Afrikaanse Polisie ingelyf is. Hy het tot in 1989 op Klipplaat gewerk en toe na Oudtshoorn gekom..

In November 1990 het hy as hofordonnans begin werk toe die landdroskantoor nog op die hoek van Kerk- en Hoogstraat was.

Volgens Pienaar is wyle Lawrence Oliphant, broer van die onstlape Reggie Oliphant, een van die mense wat hy altyd sal onthou vir sy bywoning van hofsake en regsadvies wat hy aan lede van die publiek gegee het.

Pienaar en sy vrou, Silly, wat 36 jaar getroud is, is baie trots op hul twee dogters, Hedwigg en Lauren, omdat een in die pa se voetspore en die ander in die ma s’n geloop het. Hedwigg is ‘n arbeidsprokureur wat haar LLB-graad in 2013 aan die Universiteit van die Wes-Kaap verwerf het, terwyl Lauren haar onderwysgraad in 2018 aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het