Internasionale Skopbokstoernooi in Oudtshoorn

Die “Battle of the Continents” se opening tussen Kanada en Suid-Afrika Foto: Lindi Brill Onder: Die 6 Oudtshoorniete wat vir die SA-Skopboksspan gekies is, is van links Ranger Grebe, Simon Greeff, Divan Rademeyer, Ben Greff, Wian Grebe en voor, Anando Olivier. Divan, Anando, Ben en Ranger het hul gevegte gewen. Simon en Wian het 2de plek gekry.

DIE “Battle of the Continents” skopbokstoernooi het verlede Vrydag en Saterdag in Oudtshoorn plaasgevind. Die Internasionale toets tussen Kanada en Suid-Afrika is die eerste van sy soort wat in Oudtshoorn aangebied is. Die toernooi het by die De Jagers sportkompleks plaasgevind op Vrydag 30 Junie en Saterdag 1 Julie.

Die Hoorn het met Ranger Grebe, die eienaar van Grebe’s Kickboxing Club in Oudtshoorn gepraat.

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om ’n Internasionale Toets van hierdie kaliber in Oudtshoorn te kon aanbied”, het hy gesê.

Van die beste vegters van SA is genooi om teen die Kanadese span deel te neem. Daar was 16 “full contact” vegters wat Vrydag in die kruit meegeding het. Saterdag het die Tatami-toets plaasgevind.

Daar was ook 6 Eden-vegters wat vir die SA span gekies is.

Die Toets is geopen met die onderskeie spanne se volkslied, waarna die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, die openingstoespraak gelewer het. Daarna het die spanne geskenke met mekaar uitgeruil. Suid-Afrika het as algehele wenners van die Toets weggestap. Vrydag se kruitgeveg uitslag was gelykop met 9 punte elk.

Die Tatami uitslag van Saterdag was Suid-Afrika met 15 punte teenoor Kanada se 8 punte. Die totale gevegte was 41. Suid-Afrika wen met 24 punte teenoor Kanada se 17 punte. (Deur Lindi Brill)