Infantry School FC wys goeie veggees teen topspan

Foto: Granwille Goliath

Saterdag, 7 Februarie, het die SAFA Eden by die Infanterieskool se sportgronde plaasgevind, asook die OLFA-juniorsliga.

Alle oë was eerste op die juniorspe-lers gerig, wat die toeskouers vermaak het met hul briljante spel.
Daarna het Infantry School FC gewys wat in hulle steek toe hulle ’n sterk vertoning gelewer het teen Oriented Birds FC, die span wat tans die boonste posisie op die punteleer beklee.

In ’n kompeterende en opwindende wedstryd het die twee spanne mekaar goed opgeweeg en die wedstryd het uiteindelik in ’n 1–1 gelykop geëindig.

Infantry School FC het later weer aan die beurt gekom en het hul goeie vorm voortgesit deur Bitou Young Pirates met 2–0 te klop.

Die span se dissipline en doeltreffende aanvalspel het hulle ’n welverdiende oorwinning besorg.
In die juniorafdelings het Alpha FC Oudtshoorn se o.11-span ’n sterk vertoning gelewer toe hulle Arsenal FC met 1–0 geklop het in ’n wedstryd wat deurgaans spannend was. Die verdediging het uitstekend gevaar om die voorsprong te beskerm tot by die eindfluitjie.

In die o.17-afdeling het dit ook nie aan drama ontbreek nie. Dyla Boys FC het daarin geslaag om Alpha FC Oudtshoorn met 1–0 te verslaan in ’n taai en fisiese wedstryd waar kanse min en kosbaar was.
Die dag se sokker het weereens bevestig dat plaaslike ligas oor talent beskik en dat die toekoms van sokker in die streek baie belowend lyk. (GRANWILLE GOLIATH)