Atlete laat spat rekords op die baan by die Highgate Interprovinsiale Eden Tweekamp

Foto's: Granwille Goliath

Ten spyte van uitdagende warm toestande het atlete in groot getalle opgedaag vir die DCAS/Groter Oudtshoorn/Highgate Interprovinsiale Eden Tweekamp wat onlangs in Oudtshoorn plaasgevind het. Die hitte het geensins die deelnemers afgeskrik nie – inteendeel, verskeie atlete het uitstekende prestasies gelewer en rekords laat spat op die baan.

Die byeenkoms, wat vanjaar vir die 33ste keer aangebied is, word deur deelnemers en beamptes beskryf as een van die beste nog. Meer as 560 atlete, van jonk tot oud, het deelgeneem aan ’n goed-geoliede en suksesvolle kompetisie. ’n Besonderse hoogtepunt was dat die NA Smit-swembad se paviljoen vir die eerste keer in sy geskiedenis met ’n dak toegerus is, wat ’n groot bydrae gelewer het tot die sukses van die byeenkoms.

Altesaam een Suid-Afrikaanse rekord en nege Highgate-rekords is verbeter, terwyl talle atlete ook hul persoonlike beste prestasies aangeteken het. Die nuwe Highgate-rekordhouers is Simeon Bezuidenhout en Pierre Spies (Eden), Rowan Marais (WP), Archie Markgraaf (SFS), Ava Kruger (Boland), Helene Lombaard en Ninah Weddersbum (OP), Sunee Pretorius (WP – wat ook die SA rekord verbeter het), en Kathy Gey van Pittius (Boland).

Eden het besonder goed gevaar en met 22 medaljes gespog (6 goud, 9 silwer en 7 brons). Daarbenewens het Eden se spesiale behoefte-atlete nog ses medaljes verower. Pierre Spies het nie net ’n Highgate-rekord verbeter nie, maar is ook aangewys as Junior Victor Ludorum, terwyl Melissa Meyer die beste prestasie in die hardloop-item behaal het.

In die spankompetisie het Boland die louere ingepalm, met WP tweede en Eden derde. Die skolekompetisie het ook hoop vir die toekoms gebied, met George-Suid Laerskool wat die LS-afdeling gewen het en Outeniqua LS tweede. In die hoërskoolafdeling het HS Outeniqua tweede geëindig, met HLS Oakdale in die derde plek.

Die Highgate 2026-trofeë is toegeken aan Kayla van der Merwe (Junior Victrix Ludorum – WP), Pierre Spies (Junior Victor Ludorum – Eden), Kathleen Gey van Pittius (Senior Victrix Ludorum – Boland) en Paul Roux (Senior Victor Ludorum – WP).

Die byeenkoms het weereens bevestig dat die Highgate Interprovinsiale Tweekamp ’n hoogtepunt op die atletiekkalender is en dat die toekoms van atletiek in die Eden-streek baie belowend lyk. (GRANWILLE GOLIATH)