Highgate Tweekamp ’n reusesukses hier

Die Eden Tweekampspan (hooffoto heelbo) op die Arnold de Jager tartanbaan. Eden se Hendrik Visser (bo) het silwer in die Junior Mans-afdeling ingepalm, terwyl Johan Windt (onder) goud verseker het in die Meesters Mans 60+-afdeling. (Foto’s verskaf)

DIE 30ste Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms was volgens die organiseerders ’n reusesukses met die Eden-span – waaronder atlete van Oudtshoorn – wat derde uit sewe van Suid-Afrika se top tweekampprovinsies geeïndig het.

Die span spog met 14 medaljewenners waaronder drie brons, ses silwer en vyf goud. Selfs die Junior Victor Ludorum is van Eden. Die byeenkoms, wat Vrydag en Saterdag (4 en 5 Februarie) op Oudtshoorn plaasgevind het, het 435 atlete van WP, Boland, OP, Eden, Suid-Vrystaat, GW en Grens gelok.

Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp – een van die organiseerders – het die organiseerders van die byeenkoms heelwat komplimente met die aanbieding van hierdie prestige-geleentheid ontvang.

“Die atlete het deelgeneem in feestelik-omskepte venues,” sê hy.

In die spankompetisie is Eden slegs deur Boland en die WP uitoorlê, wat onderskeidelik eerste en tweede geeïndig het. Eden is gevolg deur OP, GW, Grens en Suid-Vrystaat in die laaste plek.

Die Eden-medaljewenners was:

George-Suid Laerskool – silwer, laerskolekompetisie; Outeniqua Hoërskool – goud, hoërskolekompetisie; Rudolf Smith – brons, o.8-seuns; Annabel van der Merwe – goud, o.9-meisies; Benjamin Bond – goud, o.9-seuns én Junior Victor Ludorum; Caleb Coates – brons, o.11-seuns; Arabelle Grutter – silwer, o.13-meisies; Johannes Brink – brons, o.13-seuns; Petro Marié Fourie – silwer, o.19-meisies; Hendrik Visser – silwer, Junior Mans; Esrie Bezuidenhout – silwer, damesmeesters 40+; Johan Windt – goud, mansmeesters 60+; Marilyn Orrie – goud, damesmeesters 70+; en Mike McDonald – silwer, mansmeesters 70+. (Deur Stefan Skapie Goosen)