Groot name jaag weer die magiese sub-4 minute-myle

2019 se manswenners en sub-4 minuut-atlete was, van links: Luan Munnik (3:58,91), Ryan Mphahlele (3:53,08), Kaletso Mokhonoana (3:54,23) en Jerry Motsau (3:54,78). Foto verskaf)

DIE Eden Straatmylreeks is weer vanjaar terug in al sy glorie – en beloof om atletiek van topgehalte op te dis!

Die 2021-reeks bestaan weer uit drie bene; die Klein Karoo Straatmyle op Oudtshoorn op 16 Desember, die Swartbergbaanatletiek- en myle op Oudtshoorn op 18 Desember, en die ATKV Straatmyle in Hartenbos.

As deel van hulle gesamentlike visie bied die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), in samewerking met die Maties-Atletiekklub, ’n ontwikkelingskliniek in naellope vir atlete en afrigters op Vrydagmiddag, 17 Desember, om 15:00 op die De Jager Sportkompleks se atletiekbaan aan. Dit is gratis.

Vooraf-inskrywings is wel nodig om die Covid-protokolle in plek te sit.

Met die insluiting van Bestmed as ankerborg is daar nou weer onderhandelings aan die gang met ’n moontlike nuwe ankerborg.

Danksy die getroue ondersteuning van borge soos Noord-Wes Universiteit (NWU), Universiteit van die Vrystaat (UOVS), Wes-Kaapse Departement van Kultuursake & Sport, ATKV Hartenbos, EdenFM, United Paints Mosselbaai, en verskeie kleiner borge en donateurs, kan die reeks weer in 2022 plaasvind.

Ander sekondêre borge is die Kango Grotte, Oudtshoorn Ford, Cape Karoo International, Kleinplaas en ASICS.

Dit word weer onder die beskerming van die KKAF in vennootskap met Atletiek SWD aangebied.

Vanjaar se prysgeld van R60 000 is genoeg om te verseker dat Suid-Afrika se beste atlete kom deelneem, volgens Dave van der Walt, Operasionele Bestuurder van die KKAF.

Onder die top-mansatlete in Suid-Afrika wat vanjaar die sub-vier-minutemyle gaan jaag, tel die vorige sub-vier-minute-atlete soos Ryan Mphahlele, Jerry Matsau, James Munnik, Ruan Jonk, Christopher Swart, Abrie Kruger en die junior Keano

Domingo wat dit vir hulle moeilik gaan maak, sê Van der Walt.

Van die top-damesatlete wat mekaar die stryd gaan aansê is die vorige wenners; Kesa Molotsane en Simonay Wietsz, Cariena Viljoen, Tsepang Sello met die junior Danielle Verster wat dit vir hulle beslis moeilik gaan maak volgens Van der Walt.

Die Grand Prix-deel van die reeks behels dat die mans- en damesatlete wat die meeste punte oor die drie bene versamel het, met die Grand Prix-titel wegstap.

In die afgelope jare is nie minder as 11 droommyle in die reeks gehardloop – Johan Cronjé, Dumisane Hlaselo, Elroy Gelant, Nyongo Amos, Ryan Mphahlele, Kaletso Mokhonoana, Jerry Matsau en Luan Munnik was net van die opgewasse atlete wat dit kon behaal!

Die laaste reeks wat in 2019 aangebied was, het nie minder nie a vier atlete die magiese vier-minutemyl gebreek tydens die Klein Karoo Straatlmyl op Oudtshoorn.

Hulle was: Ryan Mphahlele met sy tyd van 3:53,08; Kaletso Mokhonoana in ’n tyd van 3:54,23; Jerry Motsau in 3:54,78; en Luan Munnik in ’n tyd van 3:58,91.

Die junior, Danielle Verster en Simonay Weitsz, het die dameswedlope oorheers, met Simonay wat die Klein Karoo Straatmyl gewen het met ’n tyd van 4:47,59; en Danielle wat die baanmyl en die ATKV Straatmyl in Hartenbos gewen het.

Die straatmyle word in die volgende kategorieë aangebied:
• Jongtalent ID – Seuns en Dogters gebore in 2007 en later.
• Jeug o.18 en o.16 – Seuns en Dogters gebore 2004, 2005 en 2006.
• Junior o.20 – Seuns en Dogters gebore in 2002 en 2003.
• Ope Mans en Dames tussen 20 en 39 jaar oud op dag van wedloop.
• 40+ Mans en Dames, 40 jaar of ouer met dag van wedloop.

Vanjaar word ook die Swartberg Baanmyle en Naelloopbyeenkomste op die De Jager Sportkompleks in Oudtshoorn aangebied op 18 Desember.

Die program bied items tussen 80 m en 400 m vir mans- en damesatlete; o.12, o.14, o.16, o.20 en Ope aan.

Die inskrywings word aanlyn gedoen, en belangstellendes kan gerus www.edenmiles.co.za besopek.

Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan ook op dié web- tuiste gevind word.

Vir enige navrae kontak Hans van der Veen op 083 4620 477.

Alternatiewelik kan Dave van der Walt geskakel word op 082 773 4901.

Daar is ook weer pryse vir die eerste SWD-atlete oor die wenstreep en daar is ook ASICS hardloopskoene vir die toppresterende ontwikkelingsatlete.

Al drie die byeenkomste word onder streng Covid-regulasies aangebied.