Diefstal van watermeters styg

DAAR is ’n toename in klagtes oor watermeters op Oudtshoorn wat gesteel word, met tussen 30 en 40 sulke klagtes wat die laaste tyd ontvang is, sê Aurelia Mle, munisipale woordvoerder.

Die Hoorn het ook die afgelope weke talle sulke klagtes van inwoners ontvang, onder meer in Adderleystraat en Hugenootstraat, en reeds op 15 November navrae daaroor aan die munisipaliteit gestuur.

Volgens Mle word ’n aantal sake reeds deur die polisie ondersoek.

“Armoede beweeg mense na diefstal. Die meters word gesteel om verkoop te word vir die bietjie metaal. Die ander probleem wat ons on­der­vind, is vandalisme van meters. Dit is nie net ’n probleem in die dorp nie, maar ook in die landelike gebiede langs die Klein Karoo Landelike Waterskema,” sê sy in die munisipale terugvoer wat verlede week ontvang is.

Volgens inwoners loop die water wanneer van die meters gesteel word, en het dit nie net groot waterverlies tot gevolg nie, maar veroorsaak die water waar dit in hul erwe instroom, ook skade.

Maar wie is dan verantwoordelik vir die verlore water en skade, en word inwoners verantwoordelik gehou vir die finansiële verlies?

Volgens Mle loop die water na so ’n diefstal of vandalisme nie meer deur die meter nie en is daar dus geen rekening wat aan die betrokke huis­eienaar gestuur sal word nie.

“Die water wat verlore gaan, maak deel uit van die munisipaliteit se waterverliese. As daar skade aan eiendom is, sal die eienaar van die eiendom – hetsy dit munisipale infrastruktuur óf privaat eiendom is – deur sy versekering moet werk.”

Mle het inwoners versoek om enige inligting rakende gesteelde of gevandaliseerde watermeters dadelik aan die munisipaliteit te stuur sodat hulle dit kan opvolg in ’n poging om booswigte vas te trek. Meld gevalle so gou moontlik aan by die munisipale beheerkamer (044 203 7800) of by Tegniese Dienste se waterafdeling (044 203 3961 / 044 203 3954 / 044 203 3952). (Deur Stefan Skapie Goosen)