Gemeenskapsgroentetuin groei letterlik van krag tot krag

Green Leaves Farm-lede (van links) Jolin Loggenberg, Jason Smit, Clive Fortuin en Ricardo Dickens hou trots van hul eerste aartappels vas. Foto: Stefan Skapie Goosen

’N GEMEENSKAPSGROENTETUINPROJEK wat Die Hoorn sedert Mei vanjaar dophou, ge­loods deur die nie-winsgewende organisasie Green Leaves Farm (GLF), is letterlik besig om van krag tot krag te groei, met die lede wat later hierdie maand hul eerste groot aartappeloes gaan in.

GLF se droom om ’n groentetuin te bewerkstellig wat hulleself, hul gesinne en hul gemeenskap kan dien, het jare gelede begin, maar vanjaar het nege mans van die Black Joint-ge­meenskap op Oudtshoorn se droom byna in een van teleurstelling en frustrasie verander.

Hul vergeefse soektog na ’n gepaste stuk grond het hulle laat begin glo dat hulle ’n doodloopstraat bereik het. Dit is hier waar Howard Barends, ’n heu­ningbosboer in die Nooit­gedacht-omgewing, betrokke geraak het en middel Julie ’n stuk grond langs die Prins Albert-pad aan hulle beskikbaar ge­stel het.

Sedertdien het die mans geswoeg en gesweet, in skofte begin werk, en selfs naderhand tente op hul stukkie grond opgeslaan sodat hulle meer gereeld die tuin, wat vinnig in ’n klein plaas ontaard het, te bewerk. Selfs met die onlangse sterk winde en swaar reën in die omgewing, wat hul tente en persoonlike besittings beskadig en natgereën het, het hulle deurgedruk. En selfs die bobbejane in die omgewing wat hul gewasse probeer steel, kry hier­die manne nie onder nie!

Met Die Hoorn se besoek aan GLF se stuk grond was die harde werk duidelik sigbaar. Daar is nie meer net een stuk grond waar aartappels en uie groei nie! Hierdie kranige kleinboere het nog ’n stuk grond skoongemaak, en spog nou met rye en rye kool, spinasie, tamaties en beet.

Ricardo Dickens, grondbestuurder vir GLF, sê al die lede is verskriklik trots op wat hulle sover vermag het, ten spyte van baie min hulpbronne.

“Ons het regtig baie harde werk hier ingesit. Ons het ons pikke, grawe en kapmesse stomp gewerk om die tuine reg te kry en te onderhou. Selfs sonder krag kom ons reg. Ons is ook al klaar besig om nog ’n stuk grond skoon te maak sodat ons nog aartappels kan aanplant,” het hy opgewonde vertel.

Behalwe vir ’n trekker wat aanvanklik gehelp het om die grond om te dolwe, het hulle alles per hand gedoen, sê Dickens.

Hy sê die mans werk maklik van vroegoggend tot laataand as dit nodig is.

Al kom GLF tans reg op hul eie stoom, juis sodat hulle hul droom kan vervul om die gemeenskap te dien, is daar ’n paar dinge wat hulle beno­dig. Onder meer, sê Dickens, sal GLF dit waardeer as enige gemeenskapslede kan help met ’n ekstra tent, kos, en persoonlike beskermende toerusting.

Help hulle asb mense! GLF verdien dit! (Deur Stefan Skapie Goosen)