Oudtshoorn se mense skitter in KKNK-reeks

’n Roerende huldeblyk deur inwoners van Oudtshoorn aan dr David Piedt, is een van verskeie videos oor Oudts­hoorn se mense wat tans aanlyn te sien is, Besoek die KKNK op sosiale media of die KKNK by https://www.youtube.com/c/KleinKarooNasionaleKunstefees.

OUDTSHOORN se mense, ’n reeks waarin Oudts­­hoorniete nie net hul talent ten toon stel nie, maar ook gesels oor dié besonderse dorp en streek, word tans aanlyn as deel van die KKNK 2021 aangebied.

“Alhoewel gehore die afgelope twee jaar nie na Oudtshoorn kon kom vir die KKNK nie, bring die KKNK nou die talent, stories en die mense van Oudtshoorn na gehore regoor die land,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

“Oudtshoorn en sy mense is al meer as 25 jaar deel van die KKNK-ervaring en só ook die prag­tige natuur en ikoniese bakens wat jaarliks ’n hoeksteen van dié fees vorm. Ons het die talent en stories van Oudtshoorn se mense in of by van hier­die bakens en natuurskoon vasgevang, onder meer in die Kango Grotte, die Queen’s Hotel en buite in die pragtige Klein Karoo se self,” vertel Theart.

Bobaasstorievertellers soos André Boezak, Tom Johnson, Hermanus Baadtjies en Theo Witbooi deel van hul gunstelingstories oor die Karoo; Han­nes Visser, Susan Ongansie en Endus Wessels lees van hul gedigte uit die pandemie-digbundel Mas­kers en mure verskyn; Danny B (Denver Manuel), Tiffany Saterdaght, Noemwoord (Janion Kennedy) en Oom Japsnoet gesels oor die Oudtshoorn rym­klets-kultuur en wys ’n proesel van hul werk aan kykers; DaVinci (Leonardo Kiewiets) deel sy lief­de vir dans en die Kallieklip Stofdansers (Calitzdorp Rieldansers) deel die ryk tradisie van riel­dans;

Alison Moos (operasionele bestuurder van die Kango Grotte) en Steven Mouton (hoofgids van die Grotte) vertel oor hul tyd by dié ikoniese toeriste-aantreklikheid en deel interessante inlig-ting oor die Grotte waarvan min mense weet.

Die reeks sluit ’n roerende huldeblyk in waarin dr David Piedt onthou word. Morné Pietersen (sta­siebestuurder van Eden FM), Rosie Schoeman (oud-direkteur en stigterslid van die KKNK), Franklin Sonn (beskermheer van die KKNK en jarelange vriend van Piedt), Hans van der Veen (fotograaf en lid van die KKNK), ds André Boezak (storieverteller en predikant), Liesel le Roux (re­dakteur van Die Hoorn), Jaco Vorster (sakeman) en Piedt se vrou, Marjorie, gesels oor die reuse-invloed wat hy op hul lewens en die Oudtshoorn-gemeenskap gehad het. Piedt se storie is ’n voorbeeld van hoe een mens ’n verskil kan maak.

• Om Oudtshoorn se mense te kyk, besoek https://www.youtube.com/c/KleinKarooNasionaleKunstefees en volg die KKNK op sosiale media.