Barrydalers verenig tydens Fight Night

Conroy Williams (regs) en sy boks-afrigter, die voormalige SA Bantamkampioen, Theo Modise het tydens Barrydale Fight Night vir wet en orde in die bokskryt gesorg. Foto: Mickey Mentz

HIERDIE jaar se Barrydale Fight Night, wat op 11 Desember by die Rolbalklub in Barrydale plaasgevind het, het talle besoekers van regoor die Wes-Kaap na die dorp gelok om hul vegters te ondersteun.

Buiten die bloed, sweet en trane wat met ’n aand van topgevegte in ’n bokskryt gepaard gaan, het die aand ook weer bevestig dat die plaaslike gemeenskap vinnig en maklik vir ’n goeie doel saam kan staan.

Daar was groot opwinding toe ’n paar bekendes mekaar die stryd in die kryt aangesê het en inwo-ners van alle rasse en klasse het saam ’n aand van goeie sport en vermaak geniet.

Hierdie jaarlikse amateur boksgevegte dien natuurlik ook as ’n platform vir die plaaslike skopboksklub, Barrydale Panic Room, se jong vegters om hul talente ten toon te stel. Dit is egter ook ’n geleentheid vir Sersant Conroy Williams om terug te gee aan die gemeenskap nadat hy so baie van die dorp ontvang het.

Williams is die hoof-organiseerder van Barrydale Fight Night en die idee het by hom onstaan nadat verskeie inwoners gedurende 2019 finansiële bystand aan hom gebied het om aan die vegkuns (martial arts) wêreldkampioenskap in die VSA deel te neem.

“Dit was ’n droom wat waar geword het en hierdie is my manier om dankie te sê,” verduidelik Williams.
Williams is ’n inspirasie vir die jeug aangesien sy verhaal een is waarmee so baie jong mense in informele nedersettings hulself kan inleef.

Williams was nog jonk toe sy pa by hulle huis op Ceres weg is. Sy oupa het die knie gebuig voor ’n drankprobleem en was by tye ook aggressief en beledigend. Op ’n stadium het Williams en sy ma sonder enige heenkome gesit.

Die lewe het hom gedruk en hy moes reeds van kleins af baklei om kop bo water te hou.

“Ons het nie ’n plek gehad om heen te gaan nie. Ek onthou hoe ek my ma gevra het; ‘Mammie, hoekom doen die Here dit aan ons? Hoekom moet ons so swaar kry?’,” vertel Williams.

“Ek was al aan daardie kant van oophand staan, aan die receiving kant, en mense het my gehelp, vir my ’n klomp goed gegee.

“Ek onthou my eerste paar tekkies was twee sizes te groot vir my, maar ek was opgewonde daaroor. Ek was dankbaar vir die hulp en daarom voel ek dat dit nou my plig is om ander te help.”

Hy meen dat hy tevrede sal wees as hy ’n bydrae kan maak om te sorg dat net een of twee seuns in sy klas nie deur dieselfde donkerte hoef te gaan nie. Williams reken daar is genoeg negatiewe invloede in vandag se samelewing. Hy probeer dus om ’n voorbeeld vir die jong boksers te wees en sy hoop is dat hulle ook die waardes wat in die bokskryt geleer word, in hul lewens kan toepas. “Ek dink dikwels aan die dae toe ek en my ma staan en tande borsel het. Die huis se water was reeds afgesny, maar die kraan het so bietjie gedrup.

“Ons het ’n uur voor die tyd reeds die water begin opvang sodat ons kan borsel en ek onthou dat dit op ’n stadium so sleg gegaan het dat ons ons tande met soutwater en sunlight seep geborsel het. Daardie was my laagste.”

Williams vertel hoe hy vir sy ma gevra het om die volgende keer as daar dalk geld is, eerder tandepasta as margarien te koop.

“Ek het gevoel ons kan eerder droë brood eet as wat ons nie kan tande borsel nie,” vertel hy.

Maar te midde van die swaarkry, het Williams steeds bly hoop en bid vir beter dae. Hy het homself oortuig dat “môre nog ’n dag is”, en dat hy dit gaan maak.

Dit is die boodskap wat hy aan elk-een van sy vegters wil oordra.

“Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, dit maak nie saak wat jy al experience het nie, dit maak jou net sterker en jy gaan een of ander tyd iemand anders kan help. Moet nooit opgee nie.”

Williams vertel dat hy ook sy inspirasie put uit dit wat in en om Barrydale plaasvind. Of dit nou oom Peter Takelo van Net vir Pret is wat mense inspireer om ’n beter en meer positiewe weergawe van hulself te wees, of Reuben Hart se span Eco

Warriors wat die dorp skoon hou – daar is baie mense hier wat vir hul medemens omgee.

Die mense wat omgee was ook by Barrydale Fight Night en met die fondse wat ingesamel is kan Williams die eerste stap tot die waarwording van sy groot droom neem.

Die mense wat omgee was ook by Barrydale Fight Night en met die fondse wat ingesamel is kan Williams die eerste stap tot die waarwording van sy groot droom neem.

Hy wil ’n klubhuis vir sy vegters bou en daarvoor het hy ongeveer R200 000 nodig.

Saterdag se gevegte verteenwoor-dig die eerste druppel in die emmer, maar Williams weet dat sy beker reeds oorloop. (Deur Mickey Mentz van News62)