Grebe’s Kickboxing-klub se Eden-atlete het uitstekend gevaar tydens die Wes-Kaapse Kick- boxing-kampioenskappe, wat op 10 Oktober 2026 by die Sunningdale Sports Complex in Kaapstad plaasgevind het.
Altesaam 18 vegters van die klub het aan die kampioenskappe deelgeneem en ’n indrukwekkende totaal van 27 medaljes verower. Die medalje-oes het uit 15 goue, 6 silwer- en 6 bronsmedaljes bestaan. Dié uitslag beklemtoon die klub se goeie voorbereiding en die atlete se harde werk en toewyding.
Hoofafrigter Ranger Grebe het gesê dat die standaard van kickboxing in die Wes-Kaap jaarliks verbeter en dat die kompetisie vanjaar besonder sterk was. Hy het sy trots uitgespreek oor die vegters se prestasies, sportmanskap en deursettingsvermoë gedurende die kampioenskappe.
Onder die uitblinkers was Jonathan Truter, wat drie goue medaljes en ’n bronsmedalje in die span-afdeling verower het. Lukas van Rooyen het goud en silwer gewen, terwyl Stian Jonker met goud, silwer en brons in die span-afdeling weggestap het.
Tristan Beets en Liam de Wit het elk twee goue medaljes ingepalm. Anando Olivier het twee silwermedaljes verower, terwyl verskeie ander klublede ook op die podium geëindig het.
Die medaljewenners sluit in Heinrich de Jager, Philip Fourie, Renier Kruger, Hailie van Rensburg, Anna Erasmus, Katerine Marais, Lize-Mari Mostert, Franco Smit, Divan van Deventer, Audan Olivier en Megan Thomas. Dirk-Harold Mostert het as spanleier deel van die span gevorm.
Die klub wag nou op die aankondiging van die Wes-Kaapse span wat aan die volgende Suid-Afrikaanse kampioenskappe gaan deelneem.
Grebe’s Kickboxing se uitsonderlike vertoning in Kaapstad is ’n groot prestasie vir die klub en die Eden-streek. Dit bevestig dat plaaslike vegters oor die talent en vasberadenheid beskik om op ’n hoë vlak mee te ding. (GRANWILLE GOLIATH)
Grebe’s Kickboxing-klub blink uit by Wes-Kaap kampioenskappe
Foto verskaf.
Be the first to comment on "Grebe’s Kickboxing-klub blink uit by Wes-Kaap kampioenskappe"