Glenton nou ’n Protea!

OUDTSHOORN se eie Glenton Stuurman, wat jare lank reeds op plaaslike koerante se sportblaaie pronk as snelbouler en tans naam maak in Suid-Afrika se krieketkringe, is Oudtshoorn se eerste Protea-speler!

Volgens Sipokazi Sokanyile, woordvoerder van Krieket Suid-Afrika, is Glenton een van 24 spelers wat gekies is vir die nasionale span wat tussen 27 November en 9 Desember vanjaar teen Engeland sal speel.

Dit is die Proteas se eerste internasionale kragmeting sedert Maart vanjaar.
Die 28-jarige Glenton het nog net 10 wedstryde vir die Oos-Kaapse Warriors gespeel, en het al 35 paaltjies laat kantel.

Hy het aan die einde van 2017 Port Elizabeth toe verhuis om vir die Oostelike Provinsie-span te speel. Voor dit was hy ’n gereelde lid van die SWD Krieketspan.

Glenton se insluiting in die 24-man Proteaspan beteken dat hy beskikbaar sal wees om gekies te word vir beide reekse teen die Engelse.

Daar sal drie wedstryde in die KFC T20-internasionale reeks asook drie wedstryde in die Betway-eendagreeks gespeel word. Beide reekse sal agter geslote deure in onderskeidelik die Six Gun Grill Newlands Stadion en Eurolux Boland Park gespeel word. (Deur Stefan Skapie Goosen)