Perseverance Rugbyklub maak reg vir Karoo-streek

PERSEVERANCE Rugbyklub op Oudtshoorn, wat sedert 2019 wroeg om erken te word deur die Karoo-streekrugbyliga, maak tans gereed vir hul volgende aansoek.

Die klub wag op die Karoostreek se Algemene Jaarvergadering op Saterdag (14 November). Volgens die klub se woordvoerder Greg Baartman, is alles in plek om te verseker dat hulle aan die Karoostreekliga sal kan deelneem.

In Maart vanjaar het die klub regsaksie begin nadat hul aansoek vir toelating tot die SWD Karoostreekliga op 30 November 2019 deur die SWD-rugbyunie afgekeur is, en aanbevelings gemaak is dat hulle in die SWD Landelike ligatoernooi moet meeding.

“Ons wil die jong mense in Oudts-hoorn ontwikkel – kranige rugbyspe-lers wat nou skool klaarmaak en nie by enige ander klubs inpas nie, jong mense wat graag wil deel raak van die sosiale aspek van die spel, en dan ook talentvolle swart spelers wat geen heenkome het nie,” sê Baartman.

Volgens hom betwis Perseverance die 2019-beslissing en is hulle baie ongelukkig oor die wyse waarop hul aansoek deur die SWD Karoostreek en die SWD Rugbyunie hanteer is.

“Maar hierdie is nou ’n nuwe aansoek, en ons het alles in plek. Ons het munisipale goedkeuring om hul geriewe te gebruik en ’n uitstekende afrigitngspan onder wie se leiding enige jong speler baie sal kan leer en ontwikkel,” voeg hy by.

Volgens Baartman is Jerome Jantjies, ’n SA-skolerugbykeurder en legende in die sport, die klub se direkteur van afrigting.

“Hoe kan so ’n legende nie toegelaat word om betrokke te wees by die ontwikkeling en bemagtiging van jong spelers nie? Ons het ’n gedugte afrigtingspan, en ek glo jong spelers sal graag onder hul leiding wil speel,” sê hy.

Baartman sê daar is ’n besliste ­voordeel vir jong mense as Perseve­rance deel raak van die Karoostreekliga. “Nou wag ons net om te sien wat by die AJV gebeur.” (Deur Stefan Skapie Goosen)