Dysselsdorp-optrede spoel oor na Oudtshoorn

’N GROEP mense wat tussen 2 en 4 November die munisipale kantore in Dysselsdorp ge­sluit en werknemers toegang tot die gebou geweier het, se woede het Maandag 9 November kookpunt bereik toe hulle ook die munisipale gebou op Oudtshoorn gesluit het.

Die inwoners is na bewering onte­vrede omdat hulle nie tydelike werkgeleenthede by die munisipaliteit kry nie, wat glo aan hulle belowe is as deel van die Wes-Kaap se Expanded Public Works Programme (EPWP).

Dié program verskaf tydelike werk om te help om armoede te bestry.

Pogings om verlede week met die inwoners te gesels toe hulle Dysselsdorp se munisipale kantore gesluit het, was egter volgens die munisipaliteit onsuksesvol.

Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, het Woensdag (11 November) gesê dat die munisipaliteit eers mense gedurende die laaste twee weke van die 2019/2020-boekjaar vir die EPWP-program in diens kon neem as gevolg van die Covid-19-pandemie.

“Hierdie mense eis egter nou om nog tien weke te werk, sodat hulle in totaal drie maande kan werk – soos ander EPWP-werkers in die verlede.”

• Volgens Mangqwengqwe loods die munisipaliteit die EPWP-program jaarliks ​​vanaf 1 Julie tot 30 Junie, maar kon dit nie as gevolg van vanjaar se inperking volledig geïmplementeer word nie.

Die munisipaliteit het egter ’n werwingsaksie vir die 2020/21-boekjaar begin om werklose mense te laat registreer vir die EPWP-werksgeleenthede.

“Twintig mense in Dysselsdorp, wat deel was van die 75 wat gedurende die twee weke gewerk het, sou Maandag 2 November 2020 begin werk het, maar die implementering van die werkprogram in Dysselsdorp is vertraag toe geëis is dat minstens 40 mense nou moet begin werk.

Hulle het toe die munisipale kantore in Dysselsdorp gesluit.

“Die munisipaliteit het nie begroot om 40 mense gelyktydig in diens te neem gedurende die laaste kwartaal van 2020 nie.

80 werkgeleenthede sal egter wel tot 30 Junie 2021 deur die munisipaliteit aan inwoners gebied word.” (Deur Stefan Skapie Goosen)