Streeklanddros Sylvia Mandla het Valentino (Tino) Ewerts (27), wat Glenton Arendse (23) die aand van 3 September 2017 in Kuduweg, Bridgton, vermoor het, tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Ewerts is daaraan skuldig bevind dat hy Arendse met ’n mes in die bors en rug gesteek het. Arendse het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Volgens Ewerts se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het hy nie die moord beplan nie en reg-verdig die feite voor die hof ’n afwyking van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar. Hoewel Ewerts nie ’n eerste oortreder is nie, is dit die eerste geweldsmisdaad waaraan hy skuldig bevind is.
Landdros Mandla het met vonnisoplegging gesê Ewerts en die oorledene het mekaar geken en kan sy nie verstaan waarom hulle nie “man tot man” sake kon uitpraat nie. “Daar is beter maniere om argumente op te los. Die beskuldigde se lewe was nie in gevaar toe hy ’n mes uitgehaal en die oorledene gesteek het nie.
“Die hof het ’n plig om toe te sien dat geregtigheid geskied. ’n Gepaste vonnis wat ’n sterk boodskap uitstuur, moet dus opgelê word.”
Volgens Mandla toon Ewerts geen berou vir sy dade of aanvaar verantwoordelikheid daarvoor nie.
“Die howe sal nie dié soort optrede duld nie.”
Ao Martin le Roux was die ondersoekbeampte in die saak. (Deur Garnett Wicomb)