Wetstoepassers besoek huis van lastige veghond

WETSTOEPASSERS van die Oudtshoorn munisipaliteit het ondersoek gaan instel by die huis in Hugenootstraat, Oudtshoorn, waar ’n swart veghondteef mense in die straat terroriseer.

Die Hoorn het verlede week berig die veghond bestorm feitlik daagliks inwoners van die buurt wat in die straat voor die huis verbyloop.

Die hond het selfs al mense gebyt.

Die Hoorn het verlede Dinsdag (4 November) navrae oor die hond aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gerig. ’n Aantal munisipale wetstoepassers het die volgende dag met drie voertuie by die eienaar van die hond se huis gaan aanklop.

’n Inwoner van die omgewing het Die Hoorn verlede Donderdag oor die wetstoepassert se besoek aan die huis ingelig.

Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die wetstoepassers het die eienaar gaan besoek oor klagtes oor die hond wat mense in die straat mense aanval.

“Met die wetstoepassers se aankoms by die huis was die hond veilig op werf.

“Die eienaar van die hond, ’n man, was egter nie daar nie. Die wetstoepassers het toe met ’n vrou by die huis oor die klagtes gepraat,” het hy gesê.

Mangqwengqwe het bygevoeg dat die hond nie verwyder is nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)