KRIEKETLIEFHEBBERS van Oudtshoorn en ondersteuners van SWD-krieket was Saterdag opgewonde en vol afwagting toe die voormalige SWD-krieketspeler en gebore Oudtshoorniet, Glenton Stuurman, sy internasionale buiging vir Suid-Afrika gemaak het.
Die 28-jarige Stuurman het uiteindelik op die veld gedraf sedert sy benoeming as Protea-speler in November 2020.
Sy eerste wedstryd in die groen en goud was in die Gaddafi-stadion in Lahore, Pakistan. Hy het in die tweede T20-wedstryd teen Pakistan gespeel.
Hoewel Stuurman 28 lopies in sy twee boulbeurte afgestaan het, kon die Proteas steeds die wedstryd met ses paaltjies wen, danksy Dwaine Pretorius wat ’n uitmuntende 5/17 behaal het.
Die Suid-Afrikaners het die reeks met 2-1 verloor nadat Pakistan die beslissende wedstryd Sondag met vier paaltjies gewen het.
• Glenton, ’n naatbouler, is oorspronklik vir die Protea-span gekies wat in 2020 teen Engeland en Sri-Lanka gespeel het, maar moes noodgedwonge weens ’n besering onttrek.
Hy speel tans provinsiale krieket vir die Warriors in die Oos-Kaap, en het op Oudtshoorn vir onder meer Harlequins en Union Stars-klubkrieket gespeel.
Hy het ook vir die George Krieketklub gespeel voordat hy die Wes-Kaap verlaat het. Hy was sedert 2013 gereeld as naatbouler lid van die SWD senior span.
Glenton maak toe sy eerste Protea-buiging
Glenton Stuurman, Oudtshoorn se eerste Protea-krieketspeler nog, het Saterdag sy internasionale debuut gemaak. (Foto verskaf)