LASBRIEWE vir die inhegtenisname van twee van sewe verdagtes van De Rust wat van huisbraak en diefstal aangekla word, is op 8 Fe-bruarie in die Oudtshoorn Landdroshof uitgereik.
Percival van Schalkwyk (29), Pieter Damons (20), Lluwellyn Swart (24), Isadore Sauls (31), Simon Lisoona (31), Lenis January (19) en Herchelle Adams (22), word daarvan aangekla dat hulle op Kersfeesmiddag 2020 by die spazawinkel van ’n buitelander, Rahael Ahmed van Bangladesh, ingebreek en kontant en ander goedere gesteel het.
Hulle is vasgetrek danksy opnames van die videokameras wat binne die winkel geïnstalleer is.
Die voorval het plaasgevind na die dood van die 24-jarige Fernando Benn.
Benn het gesterf na ’n struweling tussen hom en Ahmed.
Landdros René Gerber het lasbriewe vir Lluwellyn Swart en Herchelle Adams gelas omdat hulle nie by die hof was nie en die saak tot 23 Februarie uitgestel.
Die vyf ander verdagtes is vrygelaat op waarskuwings. (Deur Garnett Wicomb)