’N 17-JARIGE jeugdige van Oudtshoorn wat aan roof skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof vir nege maande na ’n jeugsentrum verwys.
Sy medebeskuldigde, ’n 33-jarige man, is ’n boete opgelê vir die besit van ’n gevaarlike wapen en verset teen inhegtenisname.
Die saak teen die 33-jarige Marques Roman en die jeugdige, wat weens sy ouderdom nie geïdentifiseer mag word nie, spruit uit ’n voorval in Augustus 2019 in Dassieweg, Bridgton, toe die seun vir Mary-Ann van Sensie helder oordag en ten aanskoue van verskeie mense met ’n mes gedreig, geskop en beroof het van ’n “musiekboks”.Die klagte van roof teen Roman wat saam met hom was, is deur die staat teruggetrek. Roman se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het die hof vir ’n boetestraf gevra omdat die beskuldigde skuldig gepleit en nie die hof se tyd gemors het nie.
“Hy besef dat hy aan ernstige misdrywe skuldig bevind is en verantwoordelikheid daarvoor neem.
Die klaer het geen beserings opgedoen nie, en alhoewel Roman vorige veroordelings het, is nie een relevant nie.”
Die jeugdige se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die hof gevra om die klagtes teen hom vir vonnis saam te neem.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Roman ’n boete van R1 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê wat in geheel vir drie jaar opgeskort is. (Deur Garnett Wicomb)