DIE Eden Suid-span van die Eden Tennisvereniging het die 2021-toernooi om die Franklin-skild gewen toe hy Eden-Noord met 33 wedstryde teenoor 21 geklop, en daarmee die bordjies verhang het.
Die Noordespan was verlede jaar se wenners.
In die wedstryd tussen die twee eersteliga- spanne het elke span twaalf wedstryde gewen, maar was die Noorde die wenners met 29 stelle teenoor 27.
Die Suide se tweedeligaspan het met 15-9 en 32 stelle teenoor 23 gewen.
In die afdeling vir senior mans was die Suide heeltemal te sterk vir die Noorde met ’n oorwinning van 6-0.
Die Franklin-skild-toernooi is ’n jaarlikse kompetisie wat gewoonlik vir uitstekende tennis sorg.
Die skild is jare gelede geskenk deur ’n tennisliefhebber, ene mnr Franklin van Herold, met die voorstel dat twee saamgestelde spanne van die streek daarvoor speel.
Die voorsitter van Eden Tennis, Debra Hyde, het ná die dag se wedstryde die spelers vir hul opoffering bedank, asook die Hartenbos-, Mosselbaai- en Klein Brakriviertennisklub vir die gebruik van hul bane en vir die verversings.
“Dit was weer eens ’n baie geslaagde dag van goeie wedywering en puik kameraderie,” het sy gesê.
• In nog tennisnuus het die Wesbank Tennisklub se A-span Saterdag die 2021 gemengde ligareeks van die Eden Tennisvereniging met ’n oortuigende oorwinning van 5-1 oor die span van Sedgefield afgeskop.
Dit is vanjaar Sedgefield se eerste deelname aan die kompetisie en die spanlede het goed rekenskap van hulself gegee. William Rhodes en Wendy Crowther was die span se uitblinkers met ’n oorwinning van 6-3, 6-1 oor Pietman Schoeman en Patricia Esterer, terwyl hulle in drie stelle teen Jacques de Beer en Rida Bester verloor het. (Deur Garnett Wicomb)
Eden-Suid wen 2021 Franklinskild
Die Eden-Suid tennisspan is van links Des Stark, Garnett Wicomb, Ernst Kok (kaptein) en Louis du Preez. Foto: Garnett Wicomb