Deur Ben du Preez
SWD Tweekamp het in vennootskap met die Wes-Kaapse departement van kultuursake & sport (DKES) verlede Donderdag ’n werkswinkel vir 32 gestremde persone en atlete aangebied om as beamptes by atletiek, swem en tweekamp op te tree. Daar is hoofsaaklik op tydhou gefokus.
Dave van der Walt, voorsitter van SWD Twee-kamp, het in sy verwelkoming die teenwoordiges versoek om deel te word van die hoofstroom-beamptes en hul volwaardige plek in te neem.
Hulle het ’n groot rol om te speel. Hy het ook ’n uitdaging gerig aan ander sportkodes om in gestremdes beamptes te belê.
Abrie de Swardt het die atletiekgedeelte behartig terwyl Sureta Badenhorst die swemgedeelte aangebied het. Godfrey McCallum, vise voorsitter van SWD Tweekamp, het meriete- en bywoning- sertifikate aan die deelnemers oorhandig.
Die Eden Sportakademie se puik geriewe op Oudtshoorn is vir die geleentheid gebruik. Danksy die vennootskap tussen SWD Tweekamp en DKES is die werkswinkel gratis aangebied!
Susanna Spires van die Klein Karoovereniging vir Gestremdes het SWD Tweekamp bedank vir die baanbrekerswerk wat hulle ten bate van gestremdes doen. Meer sulke projekte is nodig, het sy bygevoeg.