Eerste Nico Du Bois Uithourit ‘groot sukses’

Van links is Fanus Cilliers op die perd Kanna-Shalom, Menita Renison op Kanna-Ben en Liz Kent op haar perd Pablo Picasso tydens die eerste been van die 80 km-rit. Foto: Johanette Photography

DIE eerste Nico Du Bois Uithourit – voorheen bekend as die Oudtshoorn Perde-uithourit, en 25ste een wat in die Oudtshoorn-omgewing aangebied is, was volgens organiseerders ’n groot sukses. Meer as 60 perde het oor twee dae, Vrydag en Saterdag, deelgeneem en slegs 10% van die perde het uitgeval. Twee is tydens die rit deur hul ruiters onttrek.

Ruiters en hul perde kon oor verskeie afstande deelneem met 11 perde wat in die 40 km rit; 34 in die 80 km, en 14 wat in die 120 km rit meegeding het. Twee perde het die 160 km rit suksesvol voltooi – hulle het 05:00 Saterdagoggend weggespring en die aand om 19:40 klaargemaak, terwyl hulle intussen deur nege veeartsondersoeke moes gaan en ’n gemiddelde spoed van 14 km/h gery.

“Ons is so dankbaar vir almal wat die dag saam met ons kom deel het, daar was ook geen groot probleme of ruiters wat ernstig seergekry het nie, afgesien van een insident waar ’n ruiter hospitaal toe geneem is nadat haar perd gestruikel het en sy geval het. Die ander insident was waar ’n ruiter van haar perd geval het en die perd weggehardloop het, maar die ruiter was weer vinnig in die saal, en het die volle 80 km suksesvol voltooi,” het Henk Basson, voorsitter van die Outeniqua Uithouritklub, die organiseerder, en ook hoof-veearts vertel.

Selfs die ruiters was ongelooflik positief oor die uithourit, en die konsensus was dat almal die rit vreeslik geniet het.

Oudtshoorniete het besonders goed gevaar by die rit. Anso Nel en Saul van Wyk het Vrydag op die 80 km-afstand, eerste plekke in onderskeidelik die lig- en standaardgewigkategorie ingepalm.

Lizelette le Roux was kort op hul hakke in derde plek. Emily Zaaiman, ’n leerling by Langenhoven Gimnasium, Vrydag haar eerste 40 km rit voltooi.

Lizel de Waal, Lea Davel (13), Lizelette le Roux en Lea Muller (11) het Saterdag die 40 km rit voltooi, terwyl Saul van Wyk in die 80 km liggewigafdeling eeste oor die wenstreep galop het, met Almerie Nel die eerste junior ruiter. Natasja Lareman was die tweede liggewigruiter. Mia Muller (18) en Ruby Kruger (16), beide Gimmie-ruiters, en Fanus Cilliers het ook die 80 km voltooi.

Kieth Aychen was die eerste liggewig-ruiter in die 120 km rit, Lara le Roux tweede en Michael Vaaltyn (2022 Fauresmith-wenner) in vierde plek. Ankhe Muller (17), nog ’n Gimmie, was die eerste 120 km junior wenner. (Deur Angelique Erasmus)