
Die heel eerste toernooi wat die nuutgestigte Oudtshoorn Jukskeiklub op Saterdag, 6 Julie aangebied het, was ’n reusesukses. Die deelnemers het hulle gate uit geniet al het die spelers gebibber van die koue.
Die toernooi het uit drie afdelings bestaan, met 15 spanne wat teen mekaar gespeel het. Die spanne was van Hartenbos (3), Danabaai (3), Nelson Mandela Baai (2), Albertinia (2) en Oudtshoorn (5).
Die wenners van Afdeling A was die span van Nelson Mandela Baai met 62 punte. Afdeling B se wenners was Hartenbos B met 35,5 punte. Danabaai C2 het as wenners van Afdeling C weggestap met 45,5 punte.
Volgens Lulu Zeeman van die Oudtshoorn Jukskeiklub, het almal dit baie geniet en het die klub selfs ’n paar nuwe lede bygekry.
Die klub se oefentye is Dinsdae en Donderdae vanaf 16:00. Enige nuwe spelers is welkom om saam te speel.
“Persone wat tot 5-uur werk kan dan ook by ons inval, want die oefening hou somtyds tot 7-uur aan”, het Zeeman aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)