Eden Sporttoekennings op Riversdal gedoen

DIE Hessequa Munisipaliteit gaan gasheer speel vir die 2017 Eden Sporttoekennings.
Dié toekenningsonthaal, wat beloof om ’n prestige-geleentheid te wees, vind Donderdagaand, 27 Julie, op Riversdal plaas.

Die Eden Sportraad en die Departement van Kultuursake en Sport (DKES) is die twee ankervennote wat die onthaal aanbied.

Verskeie hoogwaardigheidbe­kleërs uit die sportwêreld en van DKES is na die onthaal genooi.
Die burgermeester van Hessequa, Grant Riddles, is vol vertroue dat hulle dié belangrike item op die Eden-sportkalender met groot sukses in Hessequa sal aanbied en die nodige glans aan die aand sal verleen.

Alle Eden-sportfederasies asook die publiek kan nog tot 24 Junie top-sportpersone, afrigters en administrateurs vir die toekennings benoem.

Benoemingsvorms kan by die sekretaris, Dave van der Walt, by sportcouncil.eden@gmail.com gekry word en aan hom teruggestuur word.

Sportprestasies tussen 1 Oktober 2016 en 24 Junie 2017 word in ag geneem. Die wenners van die onderskeie kategorieë dring deur na die Wes-Kaapse Sporttoekennings wat later vanjaar plaasvind.