Eden seniors blink uit teen ander provinsies

Die Eden se 65+ A-span wat hul afdeling gewen het, is van links Daan Spengler, Hanle Cronjé, Pikkie Malherbe en Ronnie van't Hof (kapt).

Die Eden se 65+ A-span wat hul afdeling gewen het, is van links Daan Spengler, Hanle Cronjé, Pikkie Malherbe en Ronnie van’t Hof (kapt).

Eden se 65+ B-span wat hul afdeling gewen het, is van links Jaap Rabie, June Smith, Maryna Olivier (kapt) en Neil Swart.

Eden se 65+ B-span wat hul afdeling gewen het, is van links Jaap Rabie, June Smith, Maryna Olivier (kapt) en Neil Swart.

Deur Garnett Wicomb
TWEE spanne van die Eden Senior Tennisvereniging wat verlede week op Mosselbaai aan Tennis Suid-Afrika se Super Seniors Interprovinsiale Tennistoernooi deelgeneem het, het hul onderskeie afdelings gewen terwyl nog een as naaswenner uit die stryd getree het.

Die 65+A-span van Ronnie van’t Hof (kapt), Daan Spengler, Pikkie Malherbe en Hanlé Cronje (van Wesbank Tennisklub) en die 65+ B-span van Maryna Olivier (kapt) van Wesbank Tennisklub, Jaap Rabie, Neil Swart en June Smith het goud gewen terwyl die 75+ A-span van Garnett Wicomb (kapt) ook van Wesbank Tennisklub, Callie Matthee, Colleen Noble en Elaenor Booth silwer gewen het.

Die Eden 75+ A-span het al sy wedstryde in die rondomtalie gewen, maar Vrydag in ’n uitspeelwedstryd om die eerste plek verloor teen die WP (wat op die eerste dag deur Eden gewen is).

Altesame 130 spelers van nege provinsies in die ouderdomsgroep 65+ tot 75+ het aan die week-lange toernooi op die tennisbane van die Mosselbaai-, Hartenbos- en Klein Brakrivierklubs deelgeneem.
Gauteng-Noord het die meeste spanne, altesame nege, ingeskryf, en Eden die tweede meeste, naamlik ses. Ander provinsies wat deelgeneem het, is Boland, WP, KwaZulu-Natal, OP, Gauteng-Sentraal, Noord-Wes en die Vrystaat.

Spesiale erkenning is tydens Vrydagaand se afsluitingsfunksie in die Riviera Hotel op Hartenbos aan die twee oudste spelers Callie Matthee van Eden en Ralph Burls van KwaZulu-Natal, albei 80 jaar oud, gegee sowel as aan Ricky Buwalda, ook van KwaZulu-Natal, wat al op Wimbledon gespeel het. Matthee, afgetrede predikant van Stilbaai, is een van net ses 80-jarige tennissspelers in die land wat steeds meeding. Hy het Suid-Afrika al sewe keer in die buiteland verteenwoordig.

Sy grootste ondersteuner, sê hy, is sy vrou, Caty, met wie hy al 57 jaar gelukkig getroud is.