Derde in ’n ry vir Moonlight

Moonlight se sokkerspan wat die OLFA-sokkertoernooi gewen het.

Deur Higgo Jacobs
DIE Moonlight Sokkerklub van Dysselsdorp het OLFA se Paasnaweek Sokkertoernooi op Dysselsdorp vir die derde jaar in ’n ry gewen.

Moonlight het vir Springbok, ook van Dysselsdorp, in die eindtsryd met 4-0 geklop om met die eerste prys van R20000, ’n wisseltrofee en 25 goue medaljes weg te stap.

Volgens Levesto le Roux, president van OLFA (Oudtshoorn Local Football Association), is die eind-stryd voor ’n groot skare gespeel.

Franbin Langeveldt en Juviano Lewis het in die eerste helfte elkeen vir Moonlight ’n doel aangeteken vir ’n rustyd­telling van 2-0.

In die tweede helfte het Barenito Lewis en Franbin Moonlight se ander twee doele aangeteken.

• Springbok het as naaswenners R10000 en 25 silwer medaljes ontvang. Spring Roses en United Stars het die derde plek gedeel en elkeen R3000 ontvang.
Altesame 18 klubs het in afdeling A meegeding.

• In afd B, waaraan 14 spanne deelgeneem het, het Young Blues met die louere weggestap deur Italie met 2-1 te klop. Die wenner het R12000,’n wisseltrofee en 25 goue medaljes ontvang. Italie het as naaswenners R6000 en 25 silwer medaljes ontvang en Bosbou United en Sweety Stars het die derde plek gedeel en R3000 elk ontvang.