Uitdagende fietsrenne by Prins Albert

Die roete van die Swartberg 100 Gran Fondo sluit Meiringspoort en die Swartbergpas in. Foto: www.swartberg100.com

Deur Higgo Jacobs
DIE derde Swartberg100 Gran Fondo Bergfietsren oor 170 km, wat in die skilderagtige Prins Albert begin en ook daar eindig, vind Saterdag plaas.

Gran Fondo beteken “groot uitdagende rit” en word gekenmerk deur lang afstande met steil opdraandes en ruwe terrein. Die eerste Grand Fondo was in Italië. Daarna het dit posgevat en is daar vandag Grand Fondo’s in talle lande.

Die Swartberg 100 Grand Fondo word beskou as een van die taaiste Grand Fondo’s ter wêreld.
Daar word Saterdag ook drie ander berg­fiets-renne saam met die Swartberg 100 Grand Fondo aangebied met die oog op fietsryers met ander behoeftes en fiksheidsvlakke.

Die hoofren oor 170 km begin om 07:00 op Prins Albert. Die laaste deel van dié uitmergelende roete lei oor die Swartbergpas. Slegs 750 ryers word toegelaat om aan dié ren deel te neem.

Die Medio Fondo strek oor 53,75 km met 389m se klimwerk en 300 fietsryers wat kan deelneem.
Volgens die organiseerders kan hierdie roete gemaklik in 2 uur 30 min voltooi word. Op dié roete kan die Karoolandskap op sy beste ervaar word. Die roete sluit die plaas Vrisgewaad in.

Die derde ren staan bekend as die Staffetta, wat die Italiaanse weergawe van ’n aflosresies is. Hier word slegs 150 spanne van twee ryers elk toegelaat. Die ren volg die Gran Fondo-roete. Die gelykpadspesialiste begin op Pins Albert en handig die stokkie op De Rust oor aan die fietsryers wat van klim hou en oor onder meer die Swartbergpas na Prins Albert terugkeer.

Die e-Fondo is ’n ren vir ryers met elektronies aangedrewe e-fietse. 300 deelnemers word hier toegelaat. Vanuit Prins Albert lei die roete deur die suidelike hange van die Swartberge, oor die Swartbergpas tot by Kobus se Gat terug na Prins Albert. Die roete is 65 km lank en klim 1900 meter.

Inskrywings kan gedoen word by die webtuiste https://www.swartberg100.com. Dit sal sluit sodra die limiet in elkeen van die renne bereik word.

Vir meer inligting oor aktiwiteite op en om die dorp, besoek Prins Albert se webtuiste by www.prinsalbert.org.za.