Dave van der Walt word vereer vir 50 sportjare

Bo: Corne Bence (regs), voorsitter van Wes-Kaap fietsry ontvang Wes-Kaap Fietsry se toekenning by JP Naude, president van Wes-Kaap sportkonfederasie. Foto verskaf. Foto onder: Wyndham Ewerts (links) en Dave van der Walt (tweede van links) saam met die ander Eden-sportlui wat provinsiale toekennings ontvang het. Foto verskaf.

Die sportkenner en -administrateur, Dave van der Walt, het verlede week ’n ministeriële toekenning vir sy betrokkenheid by sport oor die afgelope 50 jaar ontvang.

Die toekenning is Vrydagaand, 18 Januarie, deur minister Ricardo Mackenzie (provinsiale minister van kultuursake en sport) aan Van der Walt oorhandig tydens die provinsiale toekenningsgeleentheid vir 2024.

Die provinsiale sporttoekennings word jaarliks deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport aangebied. Vrydagaand se geleentheid is voorafgegaan deur ses streeks-toekenningsgeleenthede. Die wenners van elke streek was Vrydagaand finaliste. Die wenners van die provinsiale toekennings dring deur as finaliste in die nasionale sporttoekennings.

Dave van der Walt het reeds met sy eerste pos as onderwyser in 1974 by sport betrokke geraak. Sedertdien het hy oor die afgelope vyf dekades op plaaslike-, streeks- en provinsiale vlak ’n deurslaggewende rol in die administrasie van verskeie sportsoorte gespeel. Selfs na sy aftrede in 2013 na 40 jaar diens in die onderwys, is hy steeds betrokke by tweekamp en by die organisasie, Oudtshoorn Sport Inisiatief (OSI).

Dave het per telefoon gesê hy is dankbaar vir die toekenning en die erkenning vir sy bydrae tot sport. Hy noem dat die Eden-distrik ’n teelaarde vir sport is. Vir hom lê die bewys daarin dat 13 van die 25 toekennings wat Vrydagaand gemaak is, aan sportlui in die Eden-distrik oorhandig is.

Nog ’n Oudtshoorniet, die bekende fietsry-administrateur Corné Bence, was ook op die podium. Hy is die voorsitter van Wes-Kaap Fietsry wat die toekenning as provinsiale sportfederasie vir die derde jaar aaneenlopend ontvang het.

Die joernalis, Wyndham Ewerts wat tans die redakteur van die Knysna-Plett Herald is, het weggestap met die toekenning as provinsiale sportfotograaf van die jaar.
Die volledige lys van wenners is beskikbaar by die volgende skakel: https://bit.ly/40pXxTA.