Collegians wen

COLLEGIANS se eerste rugbyspan het Saterdag vir Uniondale met 33-15 verslaan om aan hulle die derde plek op die punteleer van die SWD Presidentsliga te besorg.

Collegians het die wedstryd teen ’n hoë tempo begin wat gelei het tot ’n drie deur hul agtsteman, Donald Makshella. Shedwick Sauls, skrumskakel, het verdoel. Daarna het goeie samespel tussen Collegians se voor- en agterspelers die geleentheid gebied vir hul heel­agter Roegelin Campher om te gaan druk. Sauls het weer verdoel.

Voordat halftyd aangebreek het, het Uniondale ’n fout van Collegians uitgebuit en het hul senter vir ’n drie oorgeval wat verdoel is.

Met die telling op 14-7 het Collegians vroeg in die tweede helfte ’n goeie lynstaanbal gewen en sterk gedryf om hul slot Michael Jonkers vir ’n drie oor te stuur wat deur Sauls verdoel is.
Uniondale het hierna ’n strafdoel behaal.

Met die daaropvolgende afskop het Collegians se haker, Ruduan Geduld, die bal gekry, goed gedryf en ’n onverdoelde drie gedruk.

Uniondale het egter teruggeveg en ’n onverdoelde drie gedruk om die telling 26-15 te maak.

Dit het Collegians se voorspelers aangespoor om met die inskop daarna die bal te bemeester. Die bal is na hul regtervleuel, Danovan le Roux, versprei wat puik gebreek het om onder die pale te gaan druk. Sauls verdoel weer. Eindtelling: 33-15.