Collegians looi Willowmore

Jason Plaatjies, vleuel van Collegians, duik hier sierlik oor vir sy span se eerste drie. Foto: Wyndham Ewerts

Collegians A het Saterdag in ’n SWD Presidentsligawedstryd op die Bridgton Sportgonde vir Willowmore A met 29-07 geklop nadat hulle rus-tyd reeds met 12-0 voor was.

Dit was ’n aanskoulike wedstryd waarin die spelers van albei spanne die bal lustig rondgegooi het.

Collegians was eerste op die telbord met ’n onverdoelde drie deur Jason Plaatjies, regtervleuel, ná mooi individuele spel.

Ná die daaropvolgende inskop het Leagan Britz, skrumskakel van Collegians, ’n drie gedruk ná goeie dryfspel. Prinshane

Carolus, losskakel, het verdoel om die rustydtelling op 12-0 te staan te bring.

Ná verskeie onsuksesvolle aanvalle vroeg in die tweede helfte weens swak besluitneming, het die volgehoue druk egter tog tot ’n drie deur Marshall Fortuin, senter, gelei.

Hy het ná goeie spel deur voor- en agterspelers deurgebars vir sy span se derde drie, wat deur Carolus verdoel is. Die telling: 19-0.

Ná onkantspel deur Willowmore nie lank daarna nie, het het Carolus die telling met ’n strafdoel na 22-0 opgeskuif.

Net daarna is Willowmore beloon met ’n welverdiende drie deur die span se regtervleuel wat deur hul los-skakel verdoel is.
Collegians se flank, Michael Tyali, het egter teruggekap deur die besoekers se verdediging aan flarde te hardloop vir ’n drie onder die pale wat deur Carolus verdoel is.

Dit het die eindtelling op 29-07 te staan gebring.

Carolus, jong losskakel van Collegians, is as die Speler van die Wed- stryd aangewys. Hy het almal met sy skitterspel verras.

• Collegians B het Willowmore B met 29-12 verslaan.

• Collegians speel Saterdag op die Rec teen Beaufort-Wes.