Cobus en Dirk bring Eden Federasie se titels huis toe

Dirk Greeff. Foto verskaf

DIE Oudtshoorn Posduifklub (OPK) en die Klein Karoo Posduifklub (KKPK) is Sondag (6 September) Prieska toe, ’n dorp op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaap.

Met ’n voertuig is die afstand tussen Prieska en Oudtshoorn sowat 550 km.
Die Jaaroudafdeling van albei klubs se wedvlugte het dié keer weggeval, en dit was slegs in die Ope-afdelings wat meegeding is, met twee wedvlugte per klub.

Die manne het ook meegeding om die Eden Posduif Federasie-titel, en die sogenaamde “pontoon”.

Die pontoon is ’n geldwedvlug waar elke deelnemer ’n kontantbedrag per duif in die boerpot gooi, en die wenner stap dan daarmee weg.

Dit was Cobus van der Merwe en Dirk Greeff, beide van die KKPK, wat die Federasie-titel gewen het in onderskeidelik wedvlug-17 en -18, maar Van der Merwe se duiwe het daarin geslaag om vir hom die pontoon huis toe te bring.

Die Federasie bestaan uit 12 klubs wat ’n unie vorm. Alle uitslae word dan na die unie gestuur, en word met die ander lede se kloktye vergelyk.
In die OPK se wedvlugte het Johan de Jager Nigh se duiwe skoonskip gemaak, en het sy duiwe in albei OPK Ope-afdelings eerste ingeklok, terwyl Van der Merwe en Greeff se duiwe in die KKPK se twee wedvlugte geseëvier het.

Hoewel die duiwe met hierdie wedvlugte al Sondag losgelaat is, het sommige van hulle eers Maandag ingeklok. In die algemeen maak duiwe die vlug huistoe klaar op dieselfde dag as wat hulle losgelaat word.

OPK Ope-afdeling se wedvlug 17 se uitslae is: De Jager Nigh – 1, 7 en 12; Raubenheimer Broers – 2, 3, 4, 8 en 11; Jurie Geldenhuys – 5, 6, 9, 13 en 14; en Ockie@Abe – 10, 15 en 16.

OPK Ope-afdeling se wedvlug 18 se uitslae is: De Jager Nigh – 1, 2, 3, 6 en 15; Raubenheimer Broers – 4, 7, 8 en 10; Geldenhuys – 5, 11, 13 en 14; Ockie@Abe – 9, 12 en 16.

KKPK Ope-afdeling se wedvlug 17 se uitslae is: Van der Merwe – 1, 5, 7, 10, 11, 13 en 19; Greeff – 2, 14 en 18; Tobie Ellis – 3 en 4; Klein Karoo Lofts (KKL) – 6, 17 en 20; Alvan Fourie – 8; George Erasmus – 9 en 12; en Hannes Smit – 15 en 16.

KKPK Ope-afdeling se wedvlug 18 se uitslae is: Greeff – 1 en 9; Smit – 2, Erasmus – 3, 8, 14, 17 en 20; Van der Merwe – 4, 7, 11, 16 en 19; Ellis – 5, 10, 12 en 15; KKL – 6 en 13; en Fourie – 18.