Chloé is jongste om kolhou te slaan!

Chloé Malgas-Kelpin saam met haar trotse oupa, Desmond. Op die inlas bo is Chloé se  ma, Phillida.                Foto’s: Garnett Wicomb

Chloé Malgas-Kelpin saam met haar trotse oupa, Desmond. Op die inlas bo is Chloé se ma, Phillida. Foto’s: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE 12-jarige Chloé Malgas-Kelpin, kleinkind van een van Oudtshoorn se bekende gholfspelers, Desmond Malgas, het op verlede Woensdag (19 Julie) die jongste gholfspeler geword wat ’n volmaakte gelukhou op die baan van die Oudtshoorn Gholfklub geslaan het.

Sy het op die 3de putjie die wit balletjie met haar hou van die bof in die blikkie laat rol.
Maar dit is nie al nie.

Die belowende jong spelertjie, wat die bal net so ver en soms selfs verder as haar oupa slaan, het gedurende die skoolvakansie twee individuele stablefordkompetisies by die klub gewen.

Sy het op Woensdag 12 Julie met 41 stablefordpunte die eerste prys opgeraap en dit op Saterdag 15 Julie opgevolg met 47 stablefordpunte nadat haar voorgee binne ’n week van 31 tot 24 gesny is.

Winston Coerecius, president van die Oudtshoorn Gholfklub, het Chloé se vertonings as merkwaardig beskryf. Hy voorspel ’n blink toekoms vir haar in die gholfwêreld.

En haar oupa borrel van trotsheid op sy kleindogter wat so reg in sy voetspore volg.

Chloé is ’n gr 7-leerder aan die Holy Cross Private School op George, en dogter van Michal en Phillida Kelpin.

Sy het op 5-jarige ouderdom en gr R begin gholf speel nadat haar ma vir haar ’n stel gholfstokke gekoop en haar aangemoedig het om die sportsoort te beoefen. Chloé is al ’n lid van die George Gholf-klub en ontvang formele afrigting by die South Cape Golf Academy (SCGA) op George.