Collegians klim punteleer

Aksie uit die wedstryd Saterdag op die Bridgton Sportgronde tussen Willowmore United en Spring Roses. Willowmore het die wedstryd met 34-27 gewen. Willowmore het vyf drieë gedruk waarvan drie verdoel is en een strafdoel behaal. Spring Roses het drie drieë gedruk wat al drie verdoel is en twee strafdoele behaal.

Aksie uit die wedstryd Saterdag op die Bridgton Sportgronde tussen Willowmore United en Spring Roses. Willowmore het die wedstryd met 34-27 gewen. Willowmore het vyf drieë gedruk waarvan drie verdoel is en een strafdoel behaal. Spring Roses het drie drieë gedruk wat al drie verdoel is en twee strafdoele behaal.

Deur Wyndham Ewerts
DIE A-span van Collegians Rugbyklub se kans om die uitspeelrondes van die SWD Presidentsliga te haal, het Vrydagaand ’n stewige hupstoot gekry toe hulle die Dysselsdorp Rangers met 36-8 op die Brigton Sportgronde pakgegee het.

Rangers het met ’n strafskop deur die span se skrumskakel, Dermut October, die eerste punte aangeteken om kortstondig voor te loop.

Collegians het daarna sterk aangeval wat die span se slot, Francois Botha, in ’n posisie geplaas het om deur die verdediging te breek, met brute krag bygesê, vir ’n drie wat deur Ronaldo Botha, skrumskakel, verdoel is (7-3).

Net voor halftyd het Collegians se buitesenter, Bertan Hendricks, ná ’n goeie agterlynbewing met ’n netjiese systap sy regstreekse teenstander ge-pypkan en oorgeseil vir ’n drie.

Botha het weer verdoel om die rustydtelling op 14-3 te staan te bring.

Ná rustyd het Collegians die krane behoorlik oopgedraai toe Trompie Campher (heelagter) en Willem Goliath (regtervleul) kort ná mekaar drieë gaan druk het. Botha het albei doelskoppe verbrou. Die woelige skrumskakel het egter opgemaak deur pragtig te breek vir ’n onverdoelde drie om Collegians met 31-3 te laat voorloop.

Rangers se loskopstut, Hamilton Luiters, het laat in die tweede helfte sy span se eerste drie gedruk nadat Collegians ’n bietjie fokus verloor het. Au-bin Baardman (losskakel) se doelskop was mis.

Collegians het die laaste sê in die wedstryd ge-had toe Hendricks (buitesenter) sy tweede drie vyf minute voor die einde gedruk het. Die doelskop was mis wat die eindtelling 36-8 gemaak het.

Collegians speel Saterdag op Willowmore teen Willowmore in die span se voorlaaste wedstryd van die seisoen.