
Brian Daniels, die Oudtshoorn polisieman wat onlangs van hier na die Kaap gestap het om fondse in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal, het ’n spesiale burgemeesterstoekenning ontvang. Foto: Stefan Skapie Goosen
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se jaarlikse Burgemeesterssporttoekennings is Vrydagaand (2 Desember) in die munisipaliteit se banketsaal gehou, met Oudtshoorn se sportlui wat
regdeur die jaar uitstekend gevaar het wat in die kollig geplaas is.
Sportsterre van alle sportkodes – oud en jonk, klein en groot – is vereer vir hul besondere talente en prestasies. Sportman en -vrou van die jaar is deur onderskeidelik Ben Greeff (skopboks) en Ziyanda Ngohekana (rugby) gewen, wat ongelukkig nie teenwoordig kon wees nie.
Die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het tydens sy toespraak gesê dat sport ‘n “brugbouer” is wat almal nodig het. “Julle is die mense wat die brûe bou en mense nader aan mekaar bring. Ons eer alle bekwame atlete en almal wat deelgeneem het wat daartoe gelei het dat julle almal vanaand hier is,” het hy gesê. Hy het bygevoeg; “ons as Oudtshoorn is geweldig trots op elkeen van julle wat bygedra het om Oudtshoorn se naam hoog te hou.”
Die gasspreker vir die aand was rugby-afrigter Anton Moolman. Moolman het sy afrigtersloopbaan in 2000 begin as die Duitslandse nasionale sewesspan hoofafrigter. Hy het verder spanne in Italië, Kenia, die VSA, Frankryk, en die Westelike Provinsie afgerig, en is tans die hoofafrigter van die SWD Arende in George.
Die wenners van die aand in elke kategorie:
Laerskool sportspan – Van Reede Drum Majorettes
Laerskool afrigter – Ronald Preshner
Laerskool sportvrou – Rogue Roelfse
Laerskool sportman – Fourie Delport
Hoërskool sportspan – Struisies Drum Majorettes
Hoërskool afrigter – Megan Preshner
Hoërskool sportvrou – Sue-dene Carelse
Hoërskool sportman – John Slabbert
Sportvrou met gestremdhede – Amy Baartman
Sportman met gestremdhede – Lu-aan Lombard
Junior sportvrou – Sarah-Jane Lewis
Junior sportman – Anando Olivier
Senior sportadministrateur – Sonja Schultz
Senior sportspan – Union Starts Cricket Club
Senior afrigter – Ranger Grebe
Senior sportvrou – Ziyanda Ngohekana
Senior sportman – Ben Greeff











