Bridgton wen weer

Ruahl Lewis, slot van Bridgton Rugbyklub se eerste rugbyspan, lê rieme neer met die bal. Foto: Ebenezer Titus

Ruahl Lewis, slot van Bridgton Rugbyklub se eerste rugbyspan, lê rieme neer met die bal. Foto: Ebenezer Titus

Deur Garnett Wicomb
DIE Bridgton Rugbyklub het Saterdag op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) skoonskip gemaak in sy kragmeting met Crusaders van George met al drie sy spanne wat gewen het.

Die A-span wat Saterdag met nuwe truie gespeel het, het Crusaders se A-span met 37-27 geklop, met die rus-tydtelling 23-17. Dit was die span se vyfde oorwinning agtereenvolgens.
Die A-span het met die oorwinning sy kanse om na die uitspeelrondes deur te dring ’n goeie hupstoot gegee.

“Ons is nou besig om die vrugte te pluk van die afgelope tyd se harde werk,” sê Keith Meyer, hoofafrigter.
In Saterdag se wedstryd het Bridgton uit die staanspoor aanvallende rugby gespeel, maar het Crusaders eerste punte aangeteken met ’n drie.

Die telling het in dié helfte wipplank gery met die twee spanne wat om die beurt voorgeloop het.
Bridgton se vleuels, Charlston ­Ewerts en Bradwin Wannies, het in die eerste helfte elk ’n drie gedruk. Gino van Vuuren (losskakel) het twee strafdoele en ’n doelskop aangeteken.

In die tweede helfte het Hershelle America (heelagter) en Ewerts nog twee puik drieë gedruk wat albei deur Van Vuuren verdoel is om die tuis­span 37-17 voor te laat loop.

Crusaders het egter nie gaan lê nie en twee onverdoelde drieë gedruk vir ’n eindtelling van 37-27.
Meyer was vol lof vir sy span se kaptein, Algernon Waarts, wat weer ’n bars gespeel het.

Met twee Bridgton-spelers wat in die laaste 10 min geelkaarte gekry het, was Meyer nie tevrede met die span se dissipline nie. “Dit het ons onder onnodige druk geplaas en moes ons ons verdedig ken om Crusaders van ons doellyn weg te hou.”

Hy is egter tevrede met die span se basiese spel in die skrums en lynstane. “Ons kan dit egter nie bekostig om konsentrasie op kritieke tye te verloor nie,” het Meyer gesê.
• Bridgton B het met 33-21 gewen en die C-span met 32-8.
Vir Bridgton B het Merkay vin Michaels (2), Lee-Henry Meyer, Du-zil Avontuur en Roderick January drieë gedruk. Michaels het een drie verdoel en Jacques Julies twee.

Vir die C-span het Autrige Tiemie (2), Brain Jonathan, Joseph Saptou en Geraldo Cupido drieë gedruk. Thiren Stoffels (losskakel) het met ’n doel- en ’n strafskop geslaag.
• Bridgton speel Saterdag op Saas-veld teen NMMU (George).