DIE Oudtshoorn krieketgemeenskap, sowel as die sportgemeenskap op die dorp in die algemeen, is vandeesweek baie hartseer ná die afsterwe van Japhta Julius, algemeen bekend as oom Jaffie.
Julius was langer as 25 jaar die Bridgton Sportgronde se hoofbaanopsigter, en talle sportmanne op die dorp ken hom reeds sedert hul jong dae se skolesport.
Hy is Dinsdag, 7 September oorlede ná ’n kort siekbed.
SWD Krieket het vandeesweek die 60-jarige Julius as een van krieket se “greatest servants” bestempel.
Volgens die sportliggaam het oom Jaffie sedert die aanvang van SWD Krieket se Hoofbaan-opsigter van die Jaar-toekennings in 2009 die gesogte toekenning al sewe keer gewen. Dit sluit vier agtereenvolgende seisoene van 2013 tot 2017 in.
“Hy sal onthou word vir sy wonderlike humorsin, en hoe vriendelik hy met almal was – van administrateurs, tot afrigters en spelers.
“Hy sal veral onthou word vir die trots wat hy vir sy werk gehad het,” het Albertus Kennedy, hoofuitvoerende beampte van SWD Krieket gesê.
In sy huldeblyk aan Julius het Rudy Claassen, president van SWD Krieket namens die sport-liggaam en die SWD krieketgemeenskap, Julius se bydrae tot SWD krieket vereer.
“Ons innige meegevoel met die Julius-familie. Hy sal beslis gemis word. Die Bridgton Sportgronde sal nooit weer dieselfde wees sonder hom nie,” het Claassen gesê.
Sedert Julius se afsterwe het hordes mense wat hom geken het hulself tot Facebook gewend om hul meegevoel te betuig.
Baie het gesê sy opvolger het groot skoene om vol te staan, terwyl ander herinneringe van byna 30 jaar lank saam met hom gedeel het. Oom Jaffie het gepas – reg langsaan die sportgronde gewoon. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Bridgton Sportgronde nie dieselfde sonder ‘Oom Jaffie’
Japhta “Oom Jaffie” Julius. (Foto verskaf)