DIE sport van Amerikaanse bofbal is nie ’n bekende gesig in die Klein Karoo nie, maar deur middel van die Eden Bofbal-federasie en ’n geesdriftige afrigter op Oudtshoorn is die sport Saterdag (24 Oktober) weer op die dorp geloods om die ontwikkeling van die sport aan te moedig.
Volgens André Alexander, afrigter en stigter van die Oudtshoorn A’s bofbal-klub, was die sport eens op ’n tyd baie populêr op die dorp, en geniet dit oor die jare heen baie aandag in die Wes-Kaap.
Alexander het Saterdag ’n ontwikkelingsdag, tesame met ’n talent-identifiseringsdag in samewerking met Eden, Wes-Kaap en SA Bofbal gehou op die St Johnstraat sportveld; reg oorkant die De Jager Sportkompleks.
Daar is vir 10 tot 12-jariges geleer presies waaroor die sport gaan, hoe om te slaan, en waar presies jy op die veld moet staan; die basiese beginsels.
Die 15 tot 18-jariges, bygestaan deur afrigters en spelers met ondervinding, is die fynere aspekte van die sport geleer, en het ook die kans gekry om hul staal tydens ’n informele wedstryd te wys. Die opwinding en geesdrif was tasbaar.
“Dit is ’n wonderlike sport waaraan almal kan deelneem, en ons wil dit graag in Oudtshoorn ontwikkel om kompeterend te kan deelneem,” het Alexander gesê. Die dag was volgens Alexander belangrik om nie net Oudtshoorn bofbal nie, maar Eden bofbal te bevorder en te hervestig.
Calvin Tait, voorsitter van Eden Bofbal, het gesê die ontwikkeling op die dorp is van kardinale belang omdat Oudts-hoorn jare gelede baie goeie spelers opgelewer het.
“Ons is die afgelope maand-en-’n-half besig met uitreiking na ’n paar dorpe in die streek om die sport weer te laat herleef onder die jonger klomp, en selfs senior spelers,” het hy gesê.
Volgens Tait het Eden juis jare gelede baie goed gevaar in die sport, en wil hulle die federasie juis ontwikkel om spelers van ’n hoë standaard te lewer.
Ali Moosa, kommissaris van Wes-Kaap Bofbal, wat ook betrokke is by die ontwikkeling van die sport in landelike gebiede, het gesê dat al is bofbal nie een van die mees populêre sportsoorte in Suid-Afrika nie, ontwikkeling juis belangrik is om die sport te laat voortleef.
“Dit is baie belangrik om kinders juis van ’n jong ouderdom af voor te stel aan die sport. Ons wil dit uit die skole laat groei, en dan die stigting van klubs aanmoedig,” het hy gesê.
Desmond Speelman, verteenwoordiger van SA Bofbal, was ook byderhand. Deel van sy portefeulje is dat bofbal op skolevlak bevorder word.
Volgens Speelman is daar landwyd ontwikkelingsprogramme wat plaasvind om die sport oor die algemeen te bevorder.
“Al is die sport nie so bekend nie, bestaan dit reeds sedert die vroeë 60’s in Suid-Afrika, en die afgelope paar jare speel ons regoor alle ouderdomsgroepe op internasionale vlak, en ons is kompeterend,” het hy gesê, en bygevoeg dat hy baie optimisties is oor die ontwikkeling van die sport.
• Belangstellendes kan Dinsdae en Donderdae vanaf 15:30 tot 17:00 by die Oudtshoorn A’s aansluit vir oefensessies. Spelers tussen die ouderdom van agt en 18 kan saamspeel. Skakel 081 442 8388 vir verdere inligting. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Bofbal herleef op Oudtshoorn
Bo: Een van die hulpafrigters wys vir die jonger spelers presies hoe jy moet staan om die bal te slaan. Onder: Die 15 tot 18-jarige spelers het die kans gekry om teen meer ervare spelers hul staal te wys. Foto’s: Stefan Goosen