Boetie en die Houtkappers wen rolballiga

Van links is Adriaan Pekeur, Boetie Fullard en Nick Stocken Foto: Mickey Mentz

BOETIE Fullard, ’n legende van die Barrydale Rolbalklub, en sy Houtkapperspan het op 20 Oktober die Country Pumpkin Sosiale Liga in styl beklink.

Met Fullard se ervaring, Nick Stocken se geesdrif en Adriaan Pekeur se jeugvolle uitkyk op sake het geen van die ander spanne ’n kat se kans gehad nie.

Kort ná die prysuitdeling het al die deelnemers oudergewoonte aan Gert Mills se legendariese Limpopo-pap, wat saam met die braaivleis bedien is, gesmul. Dit was egter asof die pap ietwat meer sout was ná die finaal. Daar word beweer dat dit ook kan wees omdat Gert ’n paar trane in sy gereg gestort het nadat sy span die loef afgesteek is.

Op ’n ligter noot het Henry Marais, Felicity Rooke en Johanna van Eden (Jack and Two Jills) die prys vir die span met die meeste gees gewen.

Op provinsiale vlak het Renaldo Claassen se juniors wat in die Overbergliga meeding, silwer in die onder-15- en onder-20-afdelings gewen. (Deur Mickey Mentz)